Deur Nadine Theron
Ronald Lamola, die minister van justisie en korrektiewe dienste, sê vroue gebruik hulle emosies om die hof te oortuig die wet gee verdagtes ’n skuiwergat in verkragtingsake.
Dit volg op ’n aansoek wat verlede week by die Grondwethof ingedien is om die bewoording van die wet op verkragting aan te pas, om dit moeliker te maak vir verkragters om voor te gee hulle het nie geweet hulle tree teen die slagoffer se wil op nie.
Huidige wetgewing vereis dat die staat moet kan bewys dat die beskuldigde die “misdadige bedoeling” gehad het om te verkrag voordat hy skuldig bevind kan word.
Dit wet moet herskryf word, lui die aansoek, sodat definisies van die woorde “verkragting” en “instemming” duideliker uiteengesit word. Kortom, “nee” is “nee”. Indien die beskuldigde dié beginsel verontagsaam, is hy ’n verkragter.
Die aansoek is ingedien deur die nie-winsgewende organisasie The Embrace Project, en deur ’n vrou van Pretoria wat as tiener verkrag is.
Die slagoffer sê van die gruwelaanval op haar: “Ek het ‘nee’ gesê, en ek het ook gesê ’stop!’. Ek het hom van my probeer afstoot maar dit was onmoontlik met my bene bo my kop teen die rusbank vasgedruk.”
Die verkragtingslagoffer het haar hofsaak teen haar beweerde verkragter verloor omdat die man getuig het hy kon nie hoor dat sy “nee” gesê het nie.
The Embrace Project sê die huidige bewoording van die wet swaai die saak oorweldigend ten gunste van die beskuldigde. Want hoe bewys mens ’n bedoeling?
Die minister staan die aansoek teë. “Hierdie aansoek word gedryf deur die vroue se ego’s teenoor mans en hulle gebruik hulle emosies om die hof te probeer oortuig dat die wet ongrondwetlik is – maar dit is nie,” het hy by monde van sy segspersoon, Leonard Sebelemetja, gesê.
“Daar is geen probleem met die huidige wetgewing op seksuele oortredings nie, en die vroue kan nie ons land se verkragtingsyfer op die wet blameer nie,” meen die minister.
Sebelemetjia is die hoofdirekteur van wetsontwikkeling in Lamola se departement.
Die minister sê die fout in die betrokke saak lê nie by die wet nie, maar by die landdros in die saak se waninterpretasie daarvan.
Hy sê hy het meegevoel met die slagoffer, wat nie strook met sy uitspraak oor die hofaansoek nie.
Een in elke drie vroue in Suid-Afrika is al verkrag of sal verkrag word – en dis net die gevalle wat by die polisie aangemeld word.
Verlede jaar het die ANC se vroueliga chemiese kastrasie voorgestel as bykomende straf vir verkragters, maar kenners meen daar is geen punt in swaar strawwe vir verkragting terwyl die huidige wetgewing dit so moeilik maak om hulle in die eerste plek skuldig te bevind nie.
In die foto hierbo: Lede van The Embrace Project betoog voor die Uniegebou
Fotobron: Verskaf