Deur Razeen Gutta
Die Proteas het Sondag op SuperSportpark in Centurion ’n teiken wat onmoontlik gelyk het in ’n skitterende jaagtog lag-lag oorgesteek in die eerste internasionale T20-wedstryd wat meer as 500 lopies opgelewer het.
Die besoekers, wat net die vorige dag die eerste wedstryd in die reeks gewen het, het 258/5 aangeteken nadat hulle die loot gewen het, met ’n verwoestende 118 van net 46 balle deur Johnson Charles aan die spits.
Dit was kortstondig die hoogste telling in Centurion. Tussen die twee beurte sou min mense kon glo die Proteas staan ’n kans. CricInfo se “win predicter”, wat met algoritmes bereken word, het gelees: West Indies 98.3%, South Africa 1.7%.
Quinton de Kock, wat Saterdag ’n goue nulletjie aangeteken het, het nonchalant losgetrek en een van sy beste internasionale T20 beurte gespeel. Dit was sy eerste honderdtal – en Suid-Afrika se vinnigste.
Quinny het na die tyd sy kolfmaat Reeza Hendricks as “the silent assassin” beskryf. Dié het minder balle trotseer, maar was net so verwoestend, met 68 van 28 in sy 50ste internasionale T20-wedstryd.
Aiden Markram en Heinrich Klaasen het die sege – met ses paaltjie en sewe balle in die bank –stylvol beklink.
Na die wedstryd het Bob Marley se “Three Little Birds” deur die luidsprekers by SuperSportpark weergalm. Die Proteas se fans oral in die land sou die woorde kon aanvoel – en glo: Everything is gonna be alright.
Die reeks staan op 1-1. Die beslissende wedstryd word Dinsdag op die Wanderers gespeel.
In die foto hierbo: Quinton de Kock
Fotobron: @ProteasMenCSA