Moordenaar kry lewenslank, maar inwoners leef in vrees

Deur Gerry Jones

Die moordenaar van ’n egpaar op Kalbaskraal, ’n nedersetting buite Malmesbury, is verlede week in die Kaapse Hooggeregshof in Kaapstad die swaarste moontlike straf opgele vir ’n dubbele moord – maar vreesbevange inwoners is oortuig daar loop nog moordenaars tussen hulle rond.

Almal met wie Scrolla.Africa oor die saak gepraat het, het daarop aangedring om anoniem te bly, uit vrees vir hulle lewens.

“Ons het hier met ’n organiseerde misdaadsindikaat te doen,” het ’n vrou uit die gemeenskap gesê. “Jou lewe hier is niks werd nie.”

Regter Monde Samela het die 31-jarige Zandre Swartz Donderdag twee keer tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Omstanders is in die voorval gewond. Daarvoor is Swartz ’n verdere agt jaar tronkstraf opgelê, met bykomende strawwe vir die besit van onwettige wapens en ammunisie. Die vonnisse loop saam.

Regter Samela het die ondersoekbeampte, sersant Zaliseka Hlatshaneni, geloof vir sy goeie werk.  

Die slagoffers se familie het gesê hulle is tevrede dat geregtigheid seëvier, maar wou nie daarop uitbrei nie.

Inwoners van Kalbaskraal is besig om ’n petisie op te trek, waarin hulle aandring dat die saak verder ondersoek word.

“Ons verwelkom die straf, maar ons voel onveilig,” het ’n ander inwoner gesê. “Mense hier sê die twee wat vermoor is, was getuies by ‘n skietvoorval waarin ’n winkeleienaar doodgeskiet is. Hulle het teruggekom om daardie twee mense stil te maak.”

Baie ander dorpenaars stem saam, maar wou nie onder hulle name met die media praat nie.

In die foto hierbo: Anton Bredell, Minister van Plaaslike Regering, en Mec Reagan, Minister van Gemeenskapveiligheid saam met plaaslike leiers voor die winkel in Kalbaskraal waar die eerste moord gepleeg is

Fotobron: Verskaf