Deur Buziwe Nocuze
Tsuga-gemeenskapsaal in Kaapstad se Samora Machel-township was die toneel van meer as 50 gesinne wat van oor tot oor geglimlag het, toe hulle Saterdag broodnodige kospakkies van die Brotherhood Social Club (BSC) ontvang het.
Die klub, wat in 2014 gestig is, verander die lewens van jong mans ten goede en help werklose mense in die gemeenskap.
Die klub se president, Mncedisi Sogwaqa, het beklemtoon hoe belangrik dit is om jong mans te help om beter volwassenes te word, en om te verseker dat ouer mense en behoeftiges die ondersteuning kry wat hulle benodig.
“Ons kon nie toelaat dat ons mense honger ly nie, en ons kan nie op ons gemak raak net omdat hulle pensioentoelaes kry nie,” verduidelik hy, en noem dat die geld nie genoeg is vir sommige mense nie. “Hulle het hulp nodig, en die klub verseker dat hulle heel maand lank kos het om te eet.”
Die BSC gee hoop aan werklose mense en help hulle om ‘n bron van inkomste te vind. Hulle verskaf ook leiding oor hoe om op te tree aan jong mans wat nie ‘n vaderfiguur het nie.
Sogwaqa het bygevoeg: “Ons kan nie wag vir politieke leiers om te help waar ons kan inspring nie. Wanneer ons kan hand bysit, laat ons so maak, want ons doen dit vir ons mense sonder om iets terug te verwag.”
Gemeenskapslede het hul dankbaarheid uitgespreek vir die BSC se vrygewigheid. Priscilla Ngamlana, ‘n 56-jarige straatverkoper, het aanvanklik nie geglo dat die kospakkies gratis is nie.
Sy het gesê: “Niemand doen iets sonder eie gewin nie. Toe hulle vir my sê dat die kos gratis is, het ek gedink dat hulle iets van ons wil hê, maar tot my verbasing het hulle ons verniet gehelp.”
Ngamlana was bly om te weet dat die geld wat sy maak uit die verkoop van vleis sal help om volgende maand vir haar gesin te voorsien.
Khunjulwa Sifuba, ‘n 54-jarige straatverkoper, was oorweldig deur die BSC se vriendelikheid. Sy het meubels ontvang en gesê: “Om ‘n tafel met stoele van mense van ander townships te kry, wys leierseienskappe en Ubuntu. Ons eie mense gee nie om vir ons nie, maar mense van ander gebiede wys hul deernis.”
Nowayilesi Tengile, ‘n 68-jarige inwoner, was ook dankbaar vir die kospakkies. Sy het gesê: “Ons pensioengeld is nie genoeg nie. Die kos wat ons koop hou nie tot die volgende betaling nie. Ons sal nooit vergeet wat hulle vir ons gedoen het nie.”
Bongiwe Mateta, ‘n 47-jarige enkelma van vyf, het haar verbasing uitgespreek oor die kosdonasies wat ontvang is sonder dat sy daarvoor gewerk het.
Sy staan gewoonlik vroeg op om tydelike werk te soek sodat sy vir haar gesin kan kos koop. “Wat die Brotherhood Social Club gedoen het is ‘n yslike groot goeie daad – hulle het ons gered.”
Op die foto hierbo: Die Brotherhood Social Club het belowe om voort te gaan om die gemeenskap by te staan
Fotokrediet: Buziwe Nocuze