Gays in Uganda nou een stap nader aan doodstraf

Uganda het Woensdag ‘n wetsontwerp goedgekeur wat sommige homoseksuele dade met die dood strafbaar maak – ‘n wet wat die Withuis in die Verenigde State as “ekstreem” bestempel het.

Slegs twee van die 389 lede van die Ugandese parlement het buite stemming gebly toe die wetsontwerp teen homoseksualiteit goedgekeur is. Vervat in die dokument is lewenslange tronkstraf vir gay seks en “werwing, bevordering en befondsing” van selfdegeslagsaktiwiteite.

“‘n Persoon wat die misdryf van ernstige homoseksualiteit pleeg is by skuldigbevinding aanspreeklik om die dood te ly,” volgens die wetsontwerp, gelees deur Robina Rwakoojo – die land se voorsitter vir regtelike en parlementêre aangeleenthede.

Die BBC het berig dat “ernstige homoseksualiteit” verwys na die seksuele misbruik van ‘n kind, ‘n gestremde persoon of kwesbare mense, of in gevalle waar ‘n slagoffer van homoseksuele aanranding met ‘n lewenslange siekte besmet word.

Withuis woordvoerder Karine Jean-Pierre het Woensdag gesê die wetsontwerp is die mees ekstreme wet teen homoseksualiteit, wêreldwyd.

Een van die LP’s wat versuim het om te stem, Fox Odoi-Oywelowo, het gesê die wetsontwerp is ondeurdag.

“Dit bevat bepalings wat ongrondwetlik is, werk teen die vordering gemaak in die stryd teen geslagsgeweld, en kriminaliseer individue in plaas van gedrag wat alle bekende wetlike norme oortree,” het Odoi-Oywelowo aan The Guardian gesê.

Die wetsontwerp sal nou aan president Yoweri Museveni voorgelê word, en hy kan besluit of dit onderteken sal word of te nie.

‘n Onlangse toespraak deur die president het egter getoon dat hy mag neig om die wetsontwerp te teken, aangesien hy na homoseksuele mense as “afwykers” verwys het.

“Westerse lande moet ophou om die mensdom se tyd te mors met pogings om hul praktyke op ander mense af te dwing,” het Museveni in ‘n televisietoespraak aan die parlement op 16 Maart gesê.

Homoseksualiteit is slegs wettig in 22 van 54 Afrika-state.

Ugandese gay-regte-aktivis Eric Ndawula het getwiet: “Vandag se gebeure in die parlement is nie net immoreel nie, maar ‘n absolute aanslag op die mensdom. Dit is skrikwekkend dat ons LP’s se oordeel vertroebel word deur haat en homofobie. Wie baat by hierdie drakoniese wet?”

Nog ‘n regte-aktivis het aan die BBC gesê die debat rondom die wetsontwerp het gelei tot vrees vir meer aanvalle op gay mense.

“Afpersing vier hoogty. Mense ontvang oproepe wat dreig ‘as jy nie vir my geld gee nie, sal ek rapporteer dat jy gay is’,” aldus die aktivis.

Saamgestel deur Dylan Bettencourt

Op die foto hierbo: Die aanvaarding van die wetsontwerp in Uganda

Fotobron: Twitter