Deur Karabo Rammutla
’n Kelner by die Habanero Shisanyama restaurant het uitgesien na ’n stewige fooitjie nadat ’n klant en sy metgeselle ’n enorme spul drank ter waarde van R10 000 verbruik het – maar sy het haar in ’n skok vasgeloop.
Die partytjiedier by dié uithangplek in Menlyn, Tshwane, het op die vlug geslaan sonder om sy rekening te vereffen.
En daar eis die bestuur sowaar dat die arme kelner die rekening uit haar eie sak betaal.
Die kerner se neef het die publiek op sosiale media gevra om die skelm te help soek sodat hy sy skuld kan betaal.
“Help asseblief vir Habanero Menlyn Restaurant om die skobbejak op te spoor. Hy het R10 000 se drank bestel en gevlug sonder om te betaal,” het hy geskryf. “Die werker wat hom bedien het, moes al die spaargeld wat sy vir haar kind weggesit het vir die eetplek gee.”
Die twiet het lesers woedend gemaak vir die restaurant se skokkende optrede.
“Dit is erg onregverdig van die eetplek om die arme meisie te laat betaal. Dit is onregverdig, en almal kry swaar. Het hulle nie sekuriteit nie? Almal moet Habanero boikot as hulle personeel so behandel,” het die neef gesê.
Scrolla.Africa het die eetplek gebel, en die bestuurder het die beskuldigings ontken en gesê hulle het ’n vergadering met die kerner en die klant belê.
“Ons sal ná die vergadering ’n verklaring uitreik om al die gerugte op te klaar,” het hy gesê.
In die foto hierbo: ’n Rekening van R10 000 wat ’n klant versuim het om te vereffen
Fotobron: Verskaf