Deur Zukile Majova
Dis meer waarskynlik dat die rooi tapyt uitgerol gaan word vir Russiese president Wladimir Poetin, as dat hy in hegtenis geneem gaan word.
Poetin sal die land besoek wanneer president Cyril Ramaphosa gasheer speel vir leiers uit Brasilië, Rusland, Indië en China tydens die 15de Brics-beraad in Augustus.
Die Internasionale Strafhof in Den Haag het ‘n lasbrief vir arrestasie uitgereik rakende die ontvoering van Oekraïense kinders.
Die hof verwag van Ramaphosa se regering om die Russiese leier in hegtenis te neem wanneer hy sy voet op Suid-Afrikaanse bodem sit.
Speaker van die parlement Nosiviwe Mapisa-Nqakula het egter die duidelikste aanduiding nóg gegee dat die ANC-regering glad nie beplan om sy Russiese bondgenoot in boeie te slaan nie.
“In die ergste van dae toe Afrika gekoloniseer is – en ek wil wel sê, in die geval van Suid-Afrika, toe ons teen kolonialisme geveg het – was Rusland onder andere een van daardie lande (wat ons ondersteun het).
“Die Russe was fisies, emosioneel, en logisties beskikbaar en het selfs baie geleenthede gebied aan studente van ons streek se bevrydingsbewegings om in Rusland te studeer,” het Mapisa-Nqakula gesê.
Sy het gesê daar is geen aanduiding van die Ramaphosa-regering dat die land se diplomatieke bande met Rusland sal verander noudat Poetin vir internasionale oorlogsmisdade aanspreeklik gehou word nie.
“Suid-Afrika geniet steeds diplomatieke betrekkinge met Rusland. As Suid-Afrika die Brics-gasheer is, verwag ek dat die staatshoofde wat lede van Brics is in Suid-Afrika sal aanland,” het sy aan Newzroom Afrika gesê.
Afgesien van sy vergrype bly Poetin, net soos wyle president Robert Mugabe van Zimbabwe, ‘n ikoon in die oë van baie Suid-Afrikaners en Afrikane.
Dit is ten spyte van beide mans se skokkende geskiedenis van menseregte misdrywe.
Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, het gesê die Poetin-aangeleentheid word deur die regering hanteer.
Ramaphosa het voorheen aangedui dat Suid-Afrika graag betrokke wou wees by pogings om die Rusland-Oekraïnse konflik op te los deur middel van onderhandelinge.
“Neutraliteit kan mens duur te staan kom, en gelukkig is ons nie alleen in hierdie saak nie – baie ander het dieselfde pad gekies.
“Die voordeel is dat ons met albei kante kan gesels.”
Op die foto hierbo: Cyril Ramaphosa (heel regs) en Vladimir Poetin (tweede van links) staan saam met die ander leiers van die Brics-nasies
Fotobron: Twitter