Deur Lucky Maree
Nou’s dit amptelik. Skeidsregters Jaco Peyper en Marius Jonker het opgemors. Dit het ‘n dissiplinêre paneel gevat om te bevestig wat almal reeds sedert die naweek weet.
“Freddie Steward sal aan geen verdere strafmaatreëls onderwerp word ná hy ‘n rooikaart teen Ierland ontvang het nie,” lui ‘n verklaring van die dissiplineerders.
Hy word nou wel nie verder gestraf nie, maar die belediging bly staan. Steward, die heelagter en ‘n sleutellid van die Engelse span, het die helfte van die wedstryd misgeloop, want Peyper en TV ref Jonker het hom die rooikaart gegee.
Hulle het tot die gevolgtrekking gekom dat hy die reël oortree het wat sê, “gevaarlike duikslae sluit in, maar is nie beperk nie tot, duik of poging om ‘n teenstander bo die skouerlyn te duik, selfs al begin die duikslag onder die skouerlyn”.
Die komitee het gesê daar is voldoende versagtende omstandighede, “insluitend die laat verandering in die beweging en posisionering van die opposisie se speler, wat die uitreiking van ‘n geelkaart liewer as ‘n rooikaart tot gevolg moes hê”.
Dit is alles goed en wel dat Steward nou beskikbaar is om hierdie naweek vir Leicester Tigers te speel, maar die Sesnasies-wedstryd kan nie oorgespeel word nie. Dis mos nie ‘n videospeletjie met ‘n reset-knoppie nie.
Steward het helfte gemis van wat heel moontlik, tot nou toe, die belangrikste wedstryd van sy lewe was.
Hoe het die komitee vir Steward om verskoning gevra, mag jy wonder. Wel, daar was niks van daai nie. En hoekom sou hulle? Steward is slegs die speler, en dus bepaald onbelangrik.
As daar enigsins teen Peyper en Jonker opgetree gaan word, sal ons nie ‘n woord daarvan hoor nie.
Die enigste sweem van ‘n verskoning (en dis beslis nie jammer-sê nie) is die deel van die verklaring wat lui: “Die komitee het erken dat daar van wedstrydbeamptes vereis word om besluite te neem onder druk en te midde ‘n lewendige wedstrydomgewing.”
Kan ons hieruit aflui dat die “wedstrydbeamptes” onder die druk en geraas van die skare die kluts kwyt geraak, en dus ‘n vrotsige besluit gemaak het?
Dis net nog ‘n voorbeeld van hoekom die kaartstelsel eksklusief vir sokker gebruik moet word, waar dit hoort. Waarsku rugbyspelers, liewer as om hulle van die veld af te verban. Iemand by Wêreldrugby het sekerlik genoeg hare op die tande om hierdie fout te erken en te begin regstel – en dit vóór die Wêreldbeker.
Op die foto hierbo: Jaco Peyper
Fotobron: Twitter