Die dood in ’n proteïendrankie

’n Tandarts in Amerika is in hegtenis geneem nadat hy gif in sy vrou se proteïndrankies gesit het sodat hy ’n nuwe lewe saam met sy skelmpie kan begin.

James Craig, 45, is Sondagoggend in Colorado in hegtenis geneem op aanklagte van moord.

Volgens die polisieverklaring het Craig beplan om “sy vrou se lewe op ’n onnnaspeurbare manier te beëindig, met gif wat met haar hospitaaldiagnose sou ooreenstem.”

Die tandarts se vrou, Angela Craig, is Sondag dood verklaar ná wat die polisie as ’n “komplekse en berekende moord” beskryf. 

Craig het sy vrou verlede Woensdag hospitaal toe geneem nadat sy van erge duiseligheid gekla het, berig Insider

Sy vrou het oomblikke na haar aankoms by die hospitaal ineengestors en moes noodbehandeling ontvang.

Mediese personeel het haar Sondag dood verklaar, en die polisie het die saak begin ondersoek nadat ’n dokter gesê het sy kon moontlik vergiftig gewees het.

“James het gereeld Angela se proteïendrankies voorberei,” het die polisieverklaring gelui.  “Daar is vermoed dat hy haar met dié drankies vergiftig het.”

Ondersoekbeamptes het e-posse en internet-soektogte gevind waarin Craig probeer vasstel hoe om ’n giftige plant aanlyn te koop, en hoeveel daarvan nodig sou wees om ’n mens dood te maak.

Craig het Maandag in die hof verskyn, en bly sonder borgtog in aanhouding. 

Saamgestel deur Dylan Bettencourt

In die foto hierbo: Proteïendrankie