SA bokser se naam geëts in internasionale annale

Deur Linda Ximba

Thandolwethu Mathiba het die eerste vroulike Suid-Afrikaanse bokser geword wat ‘n geveg by die IBA Vroue Wêreldkampioenskappe gewen het.

Sy het Magaya Veliswa van Eswatini geklop om na die volgende ronde deur te dring.

Die KwaZulu-Natalse bokser was heelpad aan die stuur en het haar Eswatini-teenstaander soos ‘n beginner laat lyk.

Mathiba, wat in die 50 kg-afdeling deelneem, het die stryd met ‘n 5-0 puntebeslissing gewen. Haar voortreflike tegniese vermoëns het haar laat vorder van die eerste ronde tot die laaste-16 groep.

Sy sê ‘n motiverende faktor was dat haar landgenote Phiwokuhle “Ben 10” Mnguni en Lethokuhle Sibisi hul gevegte verloor en dus uit die toernooi uit geboks is.

“Ek het geweet ek moet diep delf en Suid-Afrika se vlag hooghou na my susters se terugslae,” het Mathiba van haar basis in Nieu-Delhi, Indië, gesê.

“Hulle het my deurentyd ondersteun en ek dank die Here dat alles goed uitgewerk het. Nou fokus ek daario om goed te vaar in die tweede ronde en, wie weet, miskien maak ek dit al die pad eindronde toe.”

Dit is Mathiba se eerste toernooi en voor die byeenkoms het sy gesê sy hoop om internasionale ervaring op te doen, aangesien sy haar visier rig op die 2024 Olimpiese Spele in Parys.

Voor Mathiba se oorwinning was gemoedere laag in die Suid-Afrikaanse kamp, want Mngunu het alles uitgeaal maar uiteindelik verloor teen Thahn Yaho van Viëtnam, na ‘n verdeelde beslissing.

Sibisi, wat vir die tweede keer aan die kampioenskappe deelgeneem het, het ook ‘n verbete stryd gevoer, maar met punte verloor teen Rahimova Zynab van Azerbeidjan.

Op die foto hierbo: Thandolwethu Mathiba

Fotobron: Verskaf