Deur Buziwe Nocuze
Ses jaar van crystal meth-verslawing, onderhou deur ‘n lewe van misdaad, het vir Abongile Tutshana tot op die rand van selfmoord gedryf. Toe hoor sy iets op die radio.
Die advertensie op ‘n gemeenskapsradiostasie het gevra dat mense ‘n oudisie vir toneelskool aflê. En dit, sê Abongile, was die oomblik wat haar lewe ‘n ommekeer ondergaan het.
Dit was 2021, ses jaar nadat ‘n vriendin haar die eerste keer voorgestel het aan crystal meth [kristalmetamfetamien is ‘n hoogs verslawende middel wat die sentrale senuweestelsel aantas].
Oor die jare het haar verslawing vir Abongile met selfdoodgedagtes gelaat. In 2015, toe sy die dwelm begin gebruik het, het sy probeer selfmoord pleeg. Gelukkig het haar vriendin net betyds opgedaag om te verhoed dat sy haar lewe beëindig.
“My vriendin het my nooit gedwing om dwelms te neem nie, maar sy het my aan dwelms voorgestel. Ek neem volle verantwoordelikheid vir my dade, want op die ou end was dit my eie keuse,” het sy gesê.
Abongile het begin om dwelms te verkoop sodat sy haar verslawing kon bekostig. Kort voor lank, soos gereeld die geval met dwelmslawe, het sy begin steel.
Selfs haar eie gesin het deurgeloop onder haar diefstal. Haar ma, Khuliswa Mfisi, is dus vandag dankbaar dat haar dogter nie meer dwelms gebruik nie.
“Ek het myself siek gekommer oor haar. Sy het kinderfone en ander goed op ‘n gewelddadige manier verkoop om haar verslawing te voed,” het die ma gesê.
Alle pogings om Abongile se lewe te verbeter het gefaal – dis nou tot daardie dag in 2021, toe sy bewus geword het van ‘n passie wat nooit vantevore erken is nie.
“Ek het my demo ingestuur en na drie weke het ek die ja-woord gekry,” het Tutshana vertel.
Terwyl sy nog op terugvoer gewag het, het sy besef dat sy die dwelms moes laat staan as sy ernstig opgeneem wou word. Hierdie wete het gehelp om korte mette te maak met haar verslawing.
“Ek het nooit na ‘n rehabilitasiesentrum toe gegaan nie, maar het myself daartoe verbind om my lewe te verander. Ek het begin om elke dag van vroeg tot laat die erf skoon te maak om myself besig te hou en die drange te onderdruk.”
Dit het haar sowat vier maande geneem om op te hou dwelms rook – en sy het dit nog nooit berou nie.
Abongile werk nou by ‘n gemeenskapsradiostasie in die Oos-Kaap as nuusleser.
Op die foto hierbo: Abongile Tutshana was ‘n dwelmverslaafde, totdat ‘n radio-advertensie haar lewe gered het
Fotobron: Verskaf