Klaasen hernu Proteas se trots in Potch

Deur Razeen Gutta

Suid-Afrika het ‘n eendagwedstryd-nederlaag teen die Wes-Indiese Eilande vermy danksy Heinrich Klaasen se verbete lopie-jaery by die JB Marks Oval.

Temba Bavuma was weens ‘n dyspierbesering afwesig van die gashere se elftal; dit het beteken dat Aiden Markram die loot vir Suid-Afrika moes trek. Hy het dit gewen en gekies om eerste te boul.

Brandon King het die kolf goed ingelê vir die Windies, wat gretig was om met ‘n reekswen op vreemde bodem weg te loop.

Ongelukkig vir hulle kon die res van hul kolforde egter nie King se 72 benut nie. Suid-Afrika het met gereelde tussenposes paaltjies gekry, met al vyf boulers wat hul deel gedoen het.

Die besoekers het 260 lopies behaal, wat ‘n opwindende tweede beurt beloof het.

Alzarri Joseph het vinnig met twee SA kolwers klaargespeel, wat vier slagoffers binne 12 boulbeurte vir die Windies beteken het. Teen 87/4 het die Proteas gelyk of hulle op pad is om onder die druk te swig.

Die Potchefstroomse skare het hul Protea-helde ondersteun en Klaasen het die bordjies blitsig verhang.

Die 31-jarige het 119 lopies uit 61 balle getap en tot die bitter einde gekolf om sy span oor die wenlyn te moker, en ná net 29 en ‘n half boulbeurte te verseker dat die reeks gelykop geëindig het.

Hy hou nou die rekord vir die beste treftempo vir ‘n Suid-Afrikaanse kolwer in eendagwedstryde (104.05).

Die Proteas se trefkoers van 8.95 was hul hoogste ooit in ‘n suksesvolle eendagwedstryd – selfs beter as hul 8.78 in die geskiedkundige “438-wedstryd” teen Australië in 2006.

Op die foto hierbo: Heinrich Klaasen

Fotobron: @ProteasMenCSA