Deur Nothando Makhubela
Selby Ngomane se lewe het ’n skokkende wending geneem toe hy in 2014 sonder waarskuwing blind geword het in sy finale jaar as student in meganiese ingenieurswese by die Tshwane Universiteit van Tegnologie.
Met vasbeslotenheid en ywer het hy dié terugslag oorbrug.
Selby, van Duvha Park in Emalahleni, sê sy lewe was vol hoop en moontlikhede. “Ek het goed gevaar in my studies en’n merietebeurs van Eskom ontvang. Maar in my laaste semester het alles ineengestort,” het hy aan Scrolla.Africa gesê.
“Ek onthou dat ek een aand voordat ek gaan slaap vir my meisie, wat nou my vrou is, ’n teksboodskap gestuur het, waarin ek gesê het ek moet gaan slaap, daar skort iets met my oë.”
Die volgende oggend toe hy wakker word, het Ngomane sy neef, wat saam met hom gebly het, gevra hoekom dit so donker in die kamer was. Dit was nie. Helder sonskyn het die kamer verlig.
“Ek het begin huil. Ek het besef ek is blind. My neef het my dadelik na die oog-instituut in Arcadia geneem. Die dokters het gedoen wat hulle kon, maar tevergeefs. Ek het my sig heeltemal verloor,” het hy gesê.
Dit was onmoontlik om sy studies in ingenieurswese voort te sit. Hy moes opskop.
Selby is nie met ’n oogprobleem van enige aard gebore nie. Hy is gediagnoseer met ’n retinale mediese aandoening wat tot algehele blindheid lei.
“Die lewe was moeilik. Ek moes by my nuwe omstandighede aanpas en daar was soveel dinge wat ek nie vir myself kon doen. Ek moes op ander mense steun.”
Maar hy het die struikelblokke getroef. In 2021 het hy arbeidsreg by die Vaal Universiteit van tegnologie aangepak – en geslaag met 24 onderskeidings in die 33 vereiste modules.
Hy studeer met behulp van ’n rekenaarprogram wat geskep is vir sig-gestremdes.
“Die verlies van my sig was ’n enorme terugslag. Vandag glo ek mens kan feitlik enige uitdaging oorkom.”
In die foto hierbo: Selby Ngomane
Fotobron: Nothando Makhubela