Kunsmatige intelligensie (AI) kon binne 30 dae ’n nuwe wapen in die stryd teen kanker skep. ’n Ander program kon kankerpasiënte se lewensverwagting 80% akkuraat voorspel.
’n Nuwe studie wat in die joernaal Chemical Science verskyn het, toon dat navorsers by die Universiteit van Toronto, saam met Insilico Medicine, die behandeling binne ’n enkele maand bewerkstellig het met behulp van ’n program wat bekend staan as Pharma.AI.
Die behandeling is daarop gemik om hepatosellulêre karsinoma, ’n tipe lewerkanker wat algemeen voorkom, te bestry.
Die navorsers het begin deur al die beskikbare inligting oor die siekte in die program in te voer, en die res aan bestaande algoritmes oor te laat. Die nuwe behandeling kan die kanker nie net in bedwang bring nie, maar selfs genees, berig New York Post.
“Terwyl die wêreld gefassineerd was deur alles wat AI op die gebied van kuns en taal kon vermag, het ons algoritmes daarin geslaag om ’n magtige teenfoeter vir ’n dodelike siekte te vind,” het die stigter en hoof uitvoerende beampte van Insilico Medicine, Alex Zhavoronkov, in ’n verklaring geskryf.
AI is vinnig besig om nuwe ontwikkelinge op baie gebiede aan te vuur, veral in gesondheidsorg.
Tradisionele kankerbehandeling is stadig en duur.
“Hierdie navorsing is ’n verdere bewys van AI se vermoë om behandeling te versnel en meer doeltreffend te maak,” het Michael Levitt, ’n wenner van die Nobelprys in chemie, gesê.
’n Aparte studie wat in die joernaal JAMA Network Open verskyn het, beskryf hoe ’n AI-stelsel voorspel hoe lank ’n pasiënt ná ’n diagnose sal oorleef.
Die inligting wat tydens ’n mediese ondersoek en die nodige toetse bekom word, is genoeg om ’n akkurate voorspelling te verseker.
Die program se berekening was in 80% van die gevalle in die kol.
Saamgestel deur Dylan Bettencourt
In die foto hierbo: Kankerselle