WAT ’N EFF-OP

Deur Everson Luhanga

Die EFF se verwagte landwye protes-aksie was ’n klaaglike mislukking.

Die ANC se Sekretaris-Generaal, Fikile Mbulula, ’n man van min woorde, het sy wrede oordeel getwiet: “Shutdown biggest flop.”

Klein groepies mense is bespeur waar hulle dans en struggle songs sing.

Maar meestal het mense nie eintlik in die protes belang gestel nie. Baie het tuis gebly, en die betoging vermy. 

Benewens besighede in baie dele van die land wat hulle deure gesluit gehou het as voorsorgmaatreël, was daar geen bedreiging vir eiendom of menselewens nie, met polisie en private sekuriteit wat enigeen wat verdag optree, gekonfronteer het.

Indien die EFF se nasionale protesaksie enigiets bewys het, is dit die land geen tekort aan polisiëring en hulpbronne het nie. Eerder dat die probleem lê by gebrekkige politieke wil, interne sabotasie, en kwelpunte oor privatisasie.

Wat elektrisiteitskepping aanbetref, is beurtkrag die afgelope sewe dae van fase ses afgeskaal na fase een en fase nul, met geen beurtkrag Sondag nie.

Die polisie het patrollies uit die lug en op die grond uitgevoer. Die regering het die hulp van die weermag ingespan om wet en orde te handhaaf.

Die land en burgery het veilig gevoel – iets wat hulle baie lanklaas kon sê.

Baie burgers het gesê die regering se onvermoë om die nodige dienste te lewer lê dieper as President Cyril Ramaphosa se optrede. Dit is die heersende ANC-regering wat kiesers versaak het met onvervulde beloftes.

Teen Maandagoggend het die polisie se segspersoon, Brigadier Athlenda Mathe, gesê die polisie het landwyd 87 mense in hegtenis geneem vir openbare geweld en intimidasie.

Mathe het gesê 41 is in Gauteng gearresteer, 29 in Noordwes and 15 in die Vrystaat. Daar is ook enkele oortredings in provinsies soos Mpumalanga en die Oos-Kaap aangemeld.

Vincent Ndima, ’n leier in Alexandra, Johannesburg, wat hom saam met inwoners van dié township by wetstoepassers geskaar het om te verseker dat die protes vreedsaam verloop, het gesê hy was beïndruk deur die polisie se optrede. 

“Beamptes het vinnig opgetree wanneer hulle iemand gesien het wat verdag voorkom of wette oortree,” het hy gesê.

Min paaie is versper. Snelweē het oop gebly en die verkeer het normaalweg gevloei.

Foto’s en videos wat op verskeie sosiale media-platforms versprei is, het ’n prentjie van ’n normale dag in Suid-Afrika geskets.

Die polisie het beeldmateriaal gedeel wat uit die lug geneem is, wat aantoon hoe oop en vreedsaam die paaie en gemeenskappe was. 

Dit wys mense wat hulle daaglikse bestaan voortsit.

Maar in ’n toespraak aan die EFF se ondersteuners in Pretoria het die partyleier, Julius Malema, gesê: “Hierdie was die suksesvolste protesaksie in die geskiedenis van die struggle in Suid-Afrika.

“Vandag het hulle beurtkrag opgeskort omdat fabrieke wat baie krag verbruik gesluit was. Winkelsentrums was toe, daar was geen skool nie.

“Daar was nie ’n enkele vragmotor of trein nie. Suid-Afrika was toe,” het hy onder luide applous op Kerkplein in Tshwane gesê.

Die res van die land het gegaap en voorberei op vandag (Dinsdag) se viering van Menseregtedag.

In die foto hierbo: Betowers in Knysna, Bloemfontein, Mbombela en Welkom.

Fotobron: Twitter