Protes-aksie in Gqeberha val plat

Deur Anita Dangazele

Die EFF se protes-aksie het op ’n hoë noot in groter stede begin, maar in Nelson Mandelabaai was daar deurentyd bitter min sprake van ontwrigting. 

In die meeste dele van die stad het alles normaalweg voortgegaan.

Honderde EFF-lede het by die Boardwalk Mall in Somerstrand, Nelson Mandelabaai se vernaamste toeristebestemming, byeengekom en struggle songs gesing, met ’n swaar polisieteenwoordigheid wat al die ingange versper het. Net kopers is toegelaat om in te gaan.

Binne het sake doodgewoon hulle gang gegaan sonder enige ontwrigting.

Intussen het  die EFF se streeksleier, Khanya Ngqisha, gesê die opmars het die gewenste uitwerking gehad en “die land tot stilstand gedwing”.

“Wel, die protes loop goed af, want baie winkels is toe. Dis nie ’n normale besigheidsdag nie, dis baie still, en baie mense het by die huis gebly.

“Selfs hierdie winkelsentrum [Boardwalk] gaan nie die gewone winste maak nie, te wyte aan die EFF se optrede. Dit gaan goed, die protes is uiters suksesvol,” het Ngqisha gesê.

Die Provinsiale Kommissaris van Polisie, Luitenant-Generaal Nomthetheleli Mene, het aan die media gesê: “Daar was sporadiese beweging, maar alles het vreedsaam verloop.

“Ons het die polisie in verskeie gebiede ontplooi. Wat ek kan sê is dat ons nog nie van enige ernstige insidente gehoor het wat met die protesaksie verband hou nie,” het Mene gesê.

Mene het bygevoeg die polisie het omtrent 16 000 motorbande in die provinsie gekonfiskeer. Sesduisend daarvan was in Nelson Mandelabaai, wat as die rooi sone vir protes geïdentifiseer is, gevolg deur Buffalo City Metro en die OR Tambo-distrik, veral Mthatha.

Die polisie is die Oos-Kaap het gesê hulle is gereed indien daar enige verdere onwettige bedrywighede sou wees. 

In die foto hierbo: Lede van die EFF dreunsing voor die Boardwalk Mall in Somerstrand, Gqeberha.

Beeldbron: Anita Dangazele