Deur Dalphine Tagwireyi
Inwoners van Penhalonga, ’n goudmyndorpie in Manicaland provinsie, drink na bewering water wat met kwik en sianied besmet is.
Omgewingsbestuur het private mynbedrywighede in die gebied in Januarie stopgesit nadat kwik en sianied in Alexandermeer gevind is.
Die besluit kom nadat meer as 20 myners in 13 maande dood is. Onwettige goudsoekers hou nietemin aan met hulle bedrywighede.
’n Inwonder van Penhalonga, Isaac Nyana, 30, het gesê die regering moet dadelik ingryp omdat die besmette water ’n bedreiging vir inwoners en vee inhou.
“Sianied en kwik hou lewensgevaar in, en moenie in riviere gestort word, soos die myners maak nie. Hulle doen dit omdat niemand hulle bedrywighede dophou nie, en nou kry ons verdagte bruin water uit ons krane,” het hy gesê.
Hy het bygevoeg dat Omgewingsbestuur deel het aan die probleem, aangesien hulle daarvan bewus is, maar niks doen nie.
Weston Makoni, voorsitter van Penhalonga se Inwoners en Belastingbetalers-vereniging, het die situasie betreur.
“Ons en ons vee se gesondheid word bedreig omdat ons ons water uit die meer kry, en dié water word aanmekaar deur die myners besmet,” het hy gesê.
Omgewingsbestuur se hoof van onderrig en publisiteit, Amkela Sidange, het gesê hulle is bewus van die skade wat onwettige mynbedrywighede die omgewing aandoen.
“Ons het onlangs in Mashonaland twee myne gesluit omdat hulle nie aan die nodige omgewingsvereistes voldoen het nie,” het hy gesê.
In die foto hierbo: ’n Groep onwettige myners sif hulle klippe Alexandermeer
Fotobron: Verskaf