Flou protes ’n ‘groot sukses’ – Malema

Deur Zukile Majova

Die Economic Freedom Fighters (EFF) se leier, Julius Malema, het die mislukte landwye protesaksie as ’n “groot sukses” beskryf.

In ’n toespraak op Kerkplein in Tshwane het Malema aan duisende EFF-ondersteuners gesê die protes het alle voriges oortref.

Maar in werklikheid kon die EFF se landwye protes nie eers in die land se grootste townships, naamlik Soweto in Johannesburg, Mdantsane in Oos-London, Khayelitsha in Kaapstad of Umlazi in Durban momentum kry nie.

Die middestede van Johannesburg, Sandton – waar die Johannesburgse Effektebeurs is – Kaapstad en Gqeberha het soos ’n gewone dag in ’n langnaweek gelyk.

Zwelinzima Vavi, die algemene sekretaris van die SA Vakbondfederasie, wat by die protes aangesluit het, het gesê hulle is nie amptelik tot die EFF verbind nie, maar steun die standpunte wat die party aanroer.

Jacob Zuma se segsperson, Mzwanele Jimmy Manyi, en Carl Niehaus, wat nie meer in die ANC welkom is nie, het by die protes aangesluit.

Vuyo Zungula, die leier van die African Transformation Movement, wat ten gunste is van President Cyril Ramaphosa se afsetting oor die Phala Phala toesmeerdery, het ook die EFF se poging gesteun.

Intussen het die ANC se Sekretaris-Generaal, Fikile Mbalula, die ontplooiing van die weermag verdedig. Hy het gesê die regering het harde lesse tydens die July 2021 onrus geleer.

“In Suid-Afrika duld ons dit nie wanneer mense die wet in hulle eie hande neem, of die dienende regering met mag wil uitsit nie.”

Polisieminister Bheki Cele het gesê die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Inligtingstruktuur het 87 betogers landwyd vir openbare geweld in hegtenis geneem.

Volgens ’n polisieverklaring was daar 41 arrestasies in Gauteng, 29 in Noordwes, en 15 in die Vrystaat.

Ten minste 24 300 motorbande, wat strategies vir kriminele aktiwiteite geplaas is, is deur wetstoepassers gekonfiskeer; 6 000 is die Wes-Kaap, 4 500 in die Vrystaat, 3 600 in Gauteng, 1 513 in die Oos-Kaap, en ’n paar in ander provinsies.

In die foto hierbo: Julius Malema tydens die landwye protesoptog

Fotobron: EFF Suid-Afrika