Deur Razeen Gutta
Die Kim Kardashian-vloek is dalk die rede waarom Europese sokkerligas hierdie week skokuitslae opgelewer het.
In die verlede het die rapper Drake se gunstelingspanne op ’n streep verloor, maar die vloek is verbreek toe hy Argentinië laasjaar tydens die wêreldbekertoernooi in Katar gesteun het.
Nou is dit Kim se beurt om chaos te saai.
Dis doodeenvoudig: wanneer sy by ’n wedstryd opdaag, weet jy vir ’n feit die gunstelinge gaan op hulle neuse kyk.
Dit sou heel te verstane gewees het as sy haar agter sukkelspanne geskaar het. Maar nee. Arsenal, voorlopers in die Premierliga, en Lionel Messi, een van die beste spelers in die sokkergeskiedenis, het binne die bestek van ’n paar dae onder Kim se vloek deurgeloop.
Sy het laas Donderdagaand die Gunners se wedstryd teen Sporting CP in die Europa-Liga saam met haar seun, Saint, bygewoon. Mikel Arteta se span het op strafskope verloor – ’n enorme skok, as mens die Noord-Londenaars se onlangse vorm in ag neem.
Dit kon natuurlik bloot toevallig gewees het dat Kim haar op die aand van so ’n verrassing in die stad en in die stadion bevind het, maar net drie dae later het sy weer toegeslaan.
In sy twee jaar by die klub het Messi nie ’n enkele keer in PSG se kleure verloor nie. Almal sou sekerlik die Argentyn by Parc des Princes wou sien… maar nie meer nie.
Sondag het Rennes, vyfde op die punteleer, die Franse voorloper met 2-0 geklop. Natuurlik het Twitter vlamgevat. “Het julle mos gesê,” was die leedvermakerige boodskap van almal wat onse Kim in die skare bespeur het.
In die foto hierbo: Kim Kardashian
Fotobron: @thomasmblambo