Deur Dylan Bettencourt
Toe Max Verstappen tydens Saterdag se kwalifiserende rondes ratkasprobleme ontwikkel, het ’n sege in die Saöedi-Arabiese F1-wedren na ’n onbegonne taak geklink.
Toe die geruite vlag Sondag val, was selfs ’n plek op die podium feitlik ondenkbaar, maar die tweemalige kampioen het sy asemrowende talent ten toon gestel en sy pad van die 15de tot die tweede plek in sy Red Bull kar oopgeveg.
Sy spanmaat Sergio Perez was eerste oor die wenstreep, en dit was ook sy eerste sege met Verstappen in sy truspieëltjie.
Formula 1-rengeesdriftiges het hulle asems opgehou en verwag dat die span Perez sou aansê om plek te maak dat Verstappen kan verbykom, maar dit het nie gebeur nie.
Alles het nie voor die wind gegaan vir die wenspan nie. Albei jaers het deur die loop van die wedren oor probleme gekla, wat vorentoe ’n swakheid vir die kampioenskapgunstelinge kan wees.
Red Bull, laasjaar se wenner van die vervaardigerskroon, is nou losvoor met twee dubbele-podiumplekke op ’n streep.
’n Vroeë veiligheidsmotor het sterk in Verstappen se guns getel. Hy kon by die kuipe intrek vir ’n stel vars bande en ’n paar posisies klim.
Die veiligheidsmotor is ingespan nadat Lance Stroll van Aston Martin aangesê is om af te trek nadat hy probleme met sy voorste remme ondervind het.
Fernando Alonso in die ander Aston Martin is derde oor die wenstreep, wat sy 100ste plek op die podium sou verwerf het, maar hy en sy span is elk met vyf sekondes gestraf omdat hy die kuipe verkeerd binnegegaan het.
Hy moes plekke ruil met George Russel in ’n Mercedes, wat sy eerste podiumverskyning van die seisoen gemaak het.
Lewis Hamilton in die ander Mercedes was vyfde.
Die Ferrari’s van Carlos Sainz en Charles Leclerc was onderskeidelik sesde en sewende, gevolg deur Esteban Ocon en Pierre Gasly van die Alpine-span.
Kevin Magnussen in die Haas was tiende.
Formula 1 se volgende ronde is die Australiese Grand Prix oor twee weke.
In die foto hierbo: Sergio Perez
Fotobron: Twitter