Zukile Majova en Everson Luhanga
Skote geskiet!
Die eerste skote in die EFF se landwye protesaksie is afgevuur toe die polisie Sondagaand op verskeie plekke met betogers gebots het.
Die polisie het betogers in hegtenis geneem naby studentekoshuise in Braamfontein.
Beeldmateriaal wys waar die polisie skote afvuur in die rigting van studente wat deur vensters in die middestad kyk.
’n Groot groep vloekende polisielede wat aan jong vroue ruk en pluk is op video betrap drie ure voor die protestaksie amptelik begin het.
Betogings het ook vroeg in ander dele van Gauteng en in Mpumalanga, KwaZulu-Natal en Noordwes begin.
In Sebokeng, die Vaal, het ’n klein groepie betogers Moshoeshoe-Weg vroegaand met brandende buitebande versper.
Ondanks ’n groot poging van die polisie om op motorbande beslag te lê wat strategies deur betogers in die pad geplaas is, kon hulle nie alle padversperrings verhinder nie. Dié het oral in die land voorgekom.
Die polisie is Sondag opgemerk waar hulle motorbande uit die pad verwyder en in groot voertuie plaas.
Die EFF het gesê die ontplooing van die weermag in townships lyk soos die werk van ’n militêre staat.
’n Verklaring deur die party lui: “Die huidige ontplooiing van die weermag en wetstoepassers is erger as dié van die apartheid-regering tydens die noodtoestand in die tagtigerjare.
“Tonele van militêre personeel wat op die townships toesak; polisielede wat burgerlikes se huise en karre sonder lasbriewe ondersoek en motorband-winkels toemaak onthul ’n paranoïese regering wat tot erge menseregtevergryping in staat is.”
Hierdie storie word deurlopend aangepas.
In die foto hierbo: Polisie skiet op EFF-betogers
Fotobron: Twitter