Susterskap? Nee, Newark, dit was ‘n Swami-slenter

Screenshot

Amptenare in die Amerikaanse stad Newark was verheug om vriendskapsbande te smee met die Hindoe-nasie Kailasa – totdat hulle besef het dat die land glad nie bestaan ​​nie.

Afgevaardigdes van die verbeelde “land” is deur die stad – die grootste in die staat New Jersey – tydens ‘n formele byeenkoms in Januarie onthaal.

Tydens ‘n amptelike seremonie om die verbintenis te bevestig het Newark burgemeester Ras Baraka aan die “afgevaardigdes” gesê: “Ek bid dat ons verhouding sal help om kulturele, sosiale en politieke ontwikkelinge beter te verstaan, ​​en die lewens van almal op albei plekke te verbeter.”

Die susterstadprogram is ná die Tweede Wêreldoorlog gestig om kulturele en kommersiële bande tussen munisipaliteite regoor die wêreld te bevorder.

Dit het dae geneem vir die stad om te ontdek dat die hele gedoente ‘n wolhaarstorie was, opgetower deur berugte Indiese bedrieër Swami Nithyananda.

‘n Verleë stadswoordvoerder het gesê: “Alhoewel hierdie voorval betreurenswaardig was, bly die stad Newark daartoe verbind om saam te werk met mense van uiteenlopende kulture sodat ons mekaar kan verryk deur verbondenheid, ondersteuning en wedersydse respek.”

Miskien sal ‘n Google-ondersoek voor die volgende poging nie seermaak nie.

Op die foto hierbo: Newark stadsamptenare by amptelike seremonie met afgevaardigdes van “Kailasa”

Fotobron: Twitter