Deur Buziwe Nocuze
Namate spanning tussen die nuwe en ou leierskap in Kaapstad se Covid-plakkerskamp toeneem, voel gemeenskapslede die skroei van hierdie witwarm stryd.
Luthando Mcuntula is ‘n vurige voorstander vir die regte van die buurt se informele shack-bewoners, en een van die mees prominente spelers in die dispuut.
Volgens Mcuntula is die ou komiteelede nie bereid om enige mag prys te gee sodat die nuwe leierskap, waarvan hy deel is, verandering kan bring deur ondermeer verbeterde dienslewering nie.
In Januarie het iemand hom gebel om te vertel dat mense wat glo deur die ou komiteelede beïnvloed is, besig is om sy shack te vernietig.
“Toe ek daar aankom, was hulle besig om my huis te verwoes. Hulle het weggehardloop toe hulle my sien,” het hy gesê.
Later op dieselfde dag het die leiers en ‘n paar gemeenskapslede die hut met besittings en al aan die brand gesteek.
Uiteindelik, op Sondag, 12 Maart, is vier leiers in hegtenis geneem in verband met die afbrand van Mcuntula se shack.
Die arrestasie het verdere vet op die vuur gegooi van ‘n konflik wat reeds hewig woed tussen die ou en die nuwe leierskap.
Zusiphe Makhwenkwe, een van die gemeenskapsleiers wat in hegtenis geneem is, het enige betrokkenheid by die brandstigtings ontken en sy skok uitgespreek oor die beskuldiging.
“Daardie nag in die tronk was die mees ontstellende ding wat ek ooit in my lewe oorgekom het,” sê Makhwenkwe.
Mede-gemeenskapsleier Busisiwe Mdletye het vir Mcuntula daarvan beskuldig dat hy ’n boelie is wat mense uit die gemeenskap verjaag.
“Ons het lank reeds vir hierdie grond geveg maar hy het eers in 2021 hier aangekom. Hy is verkies omdat die gemeenskap gedink het hy gaan vir hulle werk, maar ná ’n ruk het hulle besef dat hy nie dinge reg doen nie,” het sy gesê.
Ten spyte van die ontkennings van ou komiteelede, dring Mcuntula daarop aan dat hulle verantwoordelik was vir die aanval op sy woning.
“Ek is bereid om die aanklagte te laat vaar as hulle my hut herbou en my besittings vervang,” het Mcuntula gesê.
Wes-Kaapse SAPD-woordvoerder, Luitenant-kolonel Malcolm Pojie, het die arrestasies bevestig en gesê dat vier verdagtes tussen die ouderdomme van 32 en 45 in hegtenis geneem is in verband met die vernietiging van die huis tydens ‘n brand in Januarie 2023.
“Die vier is van brandstigting aangekla en het in die hof verskyn,” het hy gesê.
Pojie het egter gesê die saak teen die vier is tydelik teruggetrek, en hulle is vrygelaat hangende verdere ondersoek.
Op die foto hierbo: Luthando Mcuntula staan by die oorblyfsels van sy afgebrande hut
Fotobron: Buziwe Nocuze