FA Cup-glorie wink vir Lyle Foster

Deur Dylan Bettencourt

SPORTKEUSE VAN DIE WEEK: Die Suid-Afrikaanse doelskieter Lyle Foster kom voor sy grootste uitdaging te staan wanneer sy span, Burnley, Manchester City in die kwarteindronde van die FA Cup aandurf.

➤ Foster het ’n goeie indruk gemaak sedert sy winsgewende skuif in Januarie  na Burnley, die voorlopers in die Engelse tweede liga. 

Hoewel hy net een doel geskop het, het die 22-jarige Suid-Afrikaner sy baas en voormalige kaptein van Manchester City, Vincent Kompany, beïndruk.

Dit is ’n groot week vir albei, met Foster in die kollig op City, die Premierliga-kampioene, se tuisveld, Etihad Stadion, waarna Kompany vir die eerste keer terugkeer as bestuurder van die teenstanders.

’n Sege sal die grootste van Foster se loopbaan wees, aangesien sy span ’n kans staan om die halfeindronde van dié gesogte toernooi te haal. Maar dit gaan ’n moeilike taak wees; Burnley het hulle laaste 10 wedstryde teen Manchester City op ’n streep verloor.

Maar Foster kan die verskil maak in die wedstryd wat Saterdag om 7.45nm afskop. Die aksie is regstreeks op DStv se kanaal 203. 

Die FA Cup tel Sondag vinning momentum op wanneer Sheffield United om 2nm teen Blackburn Rovers te staan kom, voordat Brighton en Grimsby 4.15 sake uitspook. 

In die groot kragmeting van die dag speel Manchester United Saterdagaad om 6.30 teen Fulham. Al die aksie is regstreeks op DStv kanaal 203. 

➤ In die Sesnasie-Rugbyreeks, wat die laaste naweek binnegaan, lyk dit na ’n uitgemaakte saak dat Ierland die titel en die Grand Slam gaan opraap. 

Hulle vertoning verlede week teen ’n moedige Skotland was asemrowend. Ierland het drie drieë teen Skotland se enkele drie aangeteken.

Met die Wêreldbeker om die draai lyk Ierland feitlik onstuitbaar. Engeland gaan helaas nie op laasweek se allemintige pak slae teen Frankryk verbeter nie, maar behoort darem nie weer 50 punte af te staan nie. Of hoe?

Die beroemde skeidsregter en patriot, Nigel Owens, skat sy landgenote, Wallis, kan Frankryk verras in ’n wedstryd wat Saterdag om 4.45nm afskop. Soos altyd hang daar ’n vraagteken oor Frankryk se betroubaarheid, maar hulle plofkrag gaan een te veel vir die Drake wees.

Teoreties kan Italië vandag vir Skotland klop. In die werklikheid? Ag nee wat.

Al die Sesnasies-aksie sal regstreeks op die DStv se kanale 201 en 211 te sien wees.

➤ Pumas teen Lions in Nelspruit om 5.05nm vandag (Vrydag). Die een Curriebekerwedstryd wat jy nie durf misloop nie. Jimmy Stonehouse en sy span het die Blou Bulle verlede week platgevee (met nege drieë teen twee). Die Lions speel heelwat beter as vroeër, en gaan gereed wees vir die stryd! 

Die mankolieke Bulle tree om 7.05 op hulle tuisveld teen die WP aan. Ai. Dit lyk nie goed vir hulle gesondheid nie

Griekwas het hulle Curriebeker-aanslag sleg afgeskop met ’n nederlaag teen ’n vasbeslote Cheetas, en sal weer behoorlik getoets word wanneer hulle die Sharks Sondag pak. Ons sal kan sien of hulle enige sê in die reeks gaan hê.

Eweneens wag daar ’n groot uitdaging op die Griffons, wat vanjaar na die topliga opgeskuif het, wanneer hulle die Cheetas, hulle magtige Vrystaatse buurman, pak. Die Sharks het hulle verlede week met ’n pak slae in hulle eerste wedstryd tussen die grotes verwelkom.

Al die Curriebeker-aksie is op DStv se kanale 201 en 211 te sien. 

➤ Formula 1 is terug met die tweede wedren van die jaar in die Midde Ooste, die Saoedi-Arabiese Grand Prix. 

Ná Max Verstappen en Red Bull se oorheersing in die eerste wedren, in Bahrain twee weke gelede, is daar ’n skrale kans dat enigiets gaan verander. 

Maar die renbaan in Jedda stel besondere tegniese eise aan motor en bestuurder, wat verrassings kan opdis.

Aston Martin het in die eerste ronde groot indruk gemaak en mik weer na ’n plek op die podium. Die groot gebrul bars Sondagaand om seweuur los, regstreeks op DStv se kanaal 215. 

In die foto hierbo: Lyle Foster

Fotobron: Burnley