Deur Zukile Majova
Politieke Redakteur
Dit is nie meer ’n oordrywing om te sê Suid-Afrika se oposisiepartye laat die kiesers in die steek nie.
Gesamentlik beheer hulle amper 55% van die stemme in die land.
Maar wat het hulle daarmee gedoen?
In die mees onlangse verkiesing – die 2021 plaaslike regeringsverkiesing – het die heersende party 45% van die stemme gewen, en die gesamentlike opposisie 54%.
’n Opposisie wat behoorlik gekoördineer was, sou die mag wat die kiesers hulle gegee het gebruik het om die 66 munisipaliteite waar daar nie ’n volstrekte meerderheid was nie op te eis.
Die betrokke rade het winsgewende metro’s ingesluit, waar die opposisie ’n kans sou staan om te bewys hulle kan beter regeer as die ANC.
Die metro’s het Nelson Mandelabaai, eThekwini, Ekurhuleni, Tshwane en Johannesburg ingesluit, met ’n gesamentlike begroting van meer as R200 miljard.
Onenigheid in die opposisie-banke en fragmentering van die opposisie-stem striem steeds die opkoms van ’n sterk teenstander wat werklik ’n alternatiewe regering kan skep.
Uitslae van die vorige verkiesing toon dat die land nou 43 politieke partye het met minder as 1% van die stemme, wat Helen Zille se teorie onderskraag dat ’n stem vir die kleiner partye ’n vermorste stem is.
Verskille tussen die vyf vernaamste opposisie-partye – die DA, EFF, IFP, ActionsSA en FF-plus – maak dit onmoontlik vir hulle om betroubare koalisies te vorm, veral in die metro’s.
Maar is dit beleidverskille?
Sedert die verkiesing twee jaar gelede het ’n ANC-koalisie beheer van eThekwini en Johannesburg oorgeneem, die DA se koalisie in Tshwane ineen laat stort, en mik nou vir for Ekurhuleni.
Magstryde in die DA, meestal aangedryf deur die party se magtige en maglustige “Madam Zille”, het koalisies in sommige bestrede munisipaliteite verhinder.
Byvoorbeeld, in Johannesburg het die voormalige DA burgemeester Dr Mpho Phalatse die ANC se onbeholpenheid met die howe aangedurf en haar burgemeestersketting in ’n taai stryd om die stad behou.
Maar haar pogings om die oposisie onder een vlag te verenig is befoeter deur Zille se weiering om met die EFF saam te werk.
Die alternatief was om die mag aan die ANC, wat net 33.6% van die stemme kon wen, terug te besorg.
In dié geval het die opposisie meer as 66% van die stemme getrek, maar kon nie ’n raad met ’n begroting van R85 miljard, en ses miljoen inwoners, verower nie.
Landwyd het die opposisieblok, wat 42,5% van die setels in die nasionale vergadering beset, ’n besliste kans om die ANC se aandeel onder die 50%-merk af te trek.
Die ANC loop ook die gevaar dat hulle nie ’n volstrekte meerderheid in provinsies soos Gauteng en KwaZulu-Natal verwerf nie.
Maar gaan die opposisiepartye iets met hierdie voorsprong uitrig?
Of gaan hulle ego’s weer in die pad kom?
In die foto hierbo: John Steenhuisen en Helen Zille
Fotobron: Twitter