Sikloon Freddy dood 200 Malawiërs, met dosyne steeds soek

Deur Everson Luhanga

‘n Hele dorpie in Malawi se Chiladzulu-distrik het onder tonne sand verdwyn.

Dit was eens ‘n plek waar kinders, bejaardes en hul vee vrede en harmonie saamgeleef het. Maar daar is vandag geen teken dat hier kort gelede nog mense gewoon het nie.

Talle mense het hul lewens verloor. Vee is weggespoel, saam met huise en infrastruktuur wat verwoes is deur vernietigende vloede in baie dorpe en verskillende distrikte in Malawi.

Die maandlange tropiese sikloon Freddy – een van die kragtigste storms wat nog ooit die Suidelike Halfrond getref het – het reeds meer as 200 lewens in Malawi geëis, maar dosyne siele word steeds vermis.

Mense se hulpkrete terwyl die water deur huise stroom word duidelik gehoor in video’s wat op sosiale media-platforms verskyn.

Daar word gesien hoe sterk winde en wilde waterstrome bome en huise omruk, terwyl die omstanders verskrik toekyk en vrees dat hulle nie vermiste geliefdes sal kan opspoor nie.

Mense wat oorleef het, het geen skuiling of kos om te eet nie. Die land is op sy knieë en soek nou dringend hulp vir sy mense.

Malawi is hoofsaaklik afhanklik van plaaslike boerderye vir voedsel en inkomste, maar oeste – en selfs hele plase – is eenvoudig weggevee.

President Lazarus Chakwera het ‘n ramptoestand in die suidelike streek van die land verklaar. Dit dek die kommersiële spilpunt Blantyre sowel as Chikwawa, Chiradzulu, Mulanje Mwanza, Nsanje, Thyolo, en die land se eertydste kern van Zomba-distrikte.

Chakwera het gesê die regering reageer reeds op noodgevalle en verleen dringende hulp aan alle geaffekteerde distrikte. Hy het ‘n beroep gedoen vir plaaslike en internasionale ondersteuning aan al die gesinne wat deur die ramp geraak is.

Op Woensdag 15 Maart het Chakwara daardie gebiede besoek. Die president het gesê hy sal vir die afsienbare toekoms in die suidelike streek aanbly om regeringsaktiwiteite te lei in reaksie op die verwoesting wat deur die sikloon veroorsaak is.

Die aaklige weer het nie net vir Malawi in chaos gedompel nie. Mosambiek en Madagaskar is ook swaar getref, met lewensverlies en vernietiging van eiendom en infrastruktuur in beide lande.

President Cyril Ramaphosa het medelye betuig met die regerings en burgers van Malawi, Mosambiek en Madagaskar wat deur Sikloon Freddy geraak is.

Op die foto hierbo: Sikloon Freddy in Malawi

Fotobron: Greenpeace