Deur Anita Dangazele
Inwoners van die Oos-Kaap sê twee voorgestelde naamveranderings is die laaste ding waaroor hulle op die oomblik besorg is.
Die vraagstuk is die gebruik van NU, of “native units”, om dele van Motherwell en Mdantsane townships te beskryf.
Motherwell is verdeel in NU1 tot NU13, en ’n deel van Mdantsane NU1 tot NU18. Dit is twee van die grootste townships in die provinsie.
Die Oos-Kaapse Provinsiale Geografiese Namekomitee het die twee betrokke metro’s, Nelson Mandelabaai en Buffalo City, aangesê om die gebruik van “native units” te staak.
Die komitee het die benaming beledigend gevind, met inagneming van die land se apartheidgeskiedenis, en met ’n rooi vlaggie vir herbemoeming gemerk.
In ’n verslag wat deur die waarnemende uitvoerende direkteur van Sport, Ontspanning, Kuns en kultuur, Charmaine Williams, ter tafel gelê is, is Nelson Mandelabaai bewusgemaak van die komitee se besware.
Scrolla.Africa het inwoners van Motherwell gevra hoe hulle oor die voorgestelde veranderinge voel.
Nosiphesihle Sizani het gesê: “Ek het nie eers geweet NU staan vir native units nie. Dit skeel my nie. Die munisipaliteit moet op werkskepping fokus. Dis al wat ons wil hê.”
’n Ander inwoner, Siphamandla Mconi, het gesê: “Dis die laaste ding wat ons pla. Ons wil water en elektrisiteit hê. Dis net nog ’n vermorsing van belastingbetalers se geld. Net politici gee oor hierdie goed om.”
Gogo Nancy, 78, wat sedert Motherwell se ontstaan in 1984 daar woon, sê sy sou in die verlede die name wou verander, maar dit pla haar nie meer nie.
“Destyds was dit beledigend, en omdat dit so ver buite die stad was, het ons gevoel ons word uitgesluit omdat ons swart is, maar nou maak dit nie regtig saak nie,” het sy gesê.
Twee Oos-Kaapse dorpe is ook vir naamveranderinge bestem. Fort Beaufort sal voortaan KwaMaqoma heet, en Somerset-Oos word KwaNojoli.
In die foto hierbo: Buffalo City in die Oos-Kaap
Fotobron: Verskaf