Dr James Elist, ’n Irans-Amerikaanse uroloog, wil penis-vergrotingsoperasies so alledaags soos boob jobs maak.
Hy het ’n behandeling met die naam Penuma geskep, ’n semi-soliede silikoon-implanting in die skag, vlak onder die vel.
Elist, sedert 1982 ’n privaatpraktisyn in Beverly Hills, het op die idee afgekom nadat hy verskeie pasiënte se gekurfde genitaliese onderdele reguit moes maak.
Die apparaat trek terug wanneer mens bogenoemde onderdeel as sagteware kan beskryf, en steek kop uit in ’n hardeware-situasie.
Wat die ongewenste kurwes aanbetref, is die apparaat net gedeeltelik suksesvol, wat seker beter is as niks, berig Insider. Ondanks die middelmatige welslae het die Amerikaanse Voedsel- en Medisyne-Administrasie (FDA) Penula in 2004 as ontkurwingsmeganisme goedgekeur.
Vyf jaar gelede het die FDA goedkeuring verleen dat die behandeling, wat in groot, ekstra-groot en ekstra-ekstra groot beskikbaar is, kommersieel verkoop word.
Elist spog dat amper 5 000 Amerikaanse mans die toestel inspan. Hy het 17 uroloë opgelei om dit te installeer.
Hy hoop dat Penuma, met die hulp van Bo, eendag so alledaags soos boob jobs sal wees. Een probleempie. Dit sit nie in elke man se broek om R300 000 op dié verstelling te bestee nie.
En moenie eers daaraan dink om die rekening aan jou mediese fonds voor te lê nie.
Elist sê sy pasiënte is deur die bank verheug met die uitslag.
“Party van hulle moes in die verlede hulle gebrekkige bates in die gym agter handdoekies wegsteek, omdat hulle goedjies soos skilpaaie in die dop gekruip was. Nou boer hulle in die gym, enß laat val hulle handdoekies aspris.”
Daar is helaas ook ’n ander oepsie: een pasiënt, genaamd Matt, verduur erge pyn sedert die prosedure, met die gevolg dat hy bedgimnastiek minder geniet as ooit tevore, al is hy deesdae ekstra-ekstra-groot.
Saamgestel deur Dylan Bettencourt
In die foto hierbo: Mens kan vermoedelik piesangs ook met Dr Elist se toestel reguit buig
Fotobron: Pexels