Drankduiwel pootjie belowende SA sokkerspelers

Ekstra Tyd: Die probleem van drinkery onder Suid-Afrikaanse sokkerspelers is goed gedokumenteer, en is lank reeds hul swakpunt, skryf Michael Madyira.

Na bewering het twee Mamelodi Sundowns-spelers onlangs dronk by die klub se Choorkop-oefengronde opgedaag.

Die spelers word deur dieselfde agent verteenwoordig, en dié het erken dat daar probleme is. Afrigter Rhulani Mokwena wou hom nie uitspreek oor die kwessie nie, maar het belowe om die twee te beskerm.

Die insident het gedreig om sake in die Sundowns-kleedkamer suur te maak, en een van die geïdentifiseerde spelers het sedertdien opgehou om saam met die klub te oefen.

‘n Kommerwekkende aantal voormalige en huidige sokkerspelers het in die openbaar verduidelik hoe drank en uithang met ‘n hele spul dames hul beroof het van ‘n toekoms waarvoor hulle bitter hard gewerk het.

Ander berou die feit dat hul glansloopbane voortydig geëindig het weens drank en deurnagpartytjies.

Voor die aanvang van die huidige seisoen het voormalige Kaizer Chiefs-sterre Daniel Cardoso en Leonardo Castro met die hele sak patats vorendag gekom oor hoe sommige van hul spanmaats dronk by oefensessies opdaag.

Dit bied ‘n insiggewende blik op die probleme by Naturena.

Selfs die klub het op rekord beskryf hoe hulle probeer het om ‘n speler met rehabilitasie en berading te help nadat hy “‘n aantal kere geskors is, insluitend twee keer in een seisoen”.

Ek onthou hoe ek 11 jaar gelede in ‘n voormalige Chiefs-speler vasgeloop het in ‘n nagklub.

Hy het by sy vriende gespog oor hoe hy ná ‘n nag van partytjie en paar uur se slaap steeds vroeg kan wakker word, sy babelaas met ‘n bier verpleeg, en een van die eerstes is wat op die oefenveld aankom.

Hy het verder grootgepraat oor hoe hy een van die toppresteerders tydens oefensessies was.

In wese het hy probeer sê dat alkohol ‘n tipe brandstof vir sy liggaam is.

Die betrokke speler is steeds aktief en teken doele aan oorsee.

Dit is nie net ‘n Suid-Afrikaanse probleem nie. Maandag het berigte uit Frankryk gelui dat ‘n Paris Saint-Germain-speler dronk by ‘n oefening opgedaag het.

Maar dit bly groot rede tot kommer in ons land, en dit lyk nie of daar salf te smeer is aan die alkoholprobleem nie.

Elke speler moet natuurlik in die eerste plek verantwoordelikheid aanvaar. Maar die vraag bly staan: hoe kom ons met die beste ondersteuningstelsel vorendag, voordat ons nog meer talentvolle spelers aan drank afstaan?

Op die foto hierbo: Drank vloei mildelik terwyl daar na die wedstryd gekyk word