Die legendariese jazz-sangeres en liedjieskrywer Gloria Bosman is Dinsdag ná ‘n kort siekbed oorlede.
Die 50-jarige sangeres het die meerderheid van haar musiek vrygestel in die laat 1990’s en 2000’s.
Haar dood is Dinsdagmiddag deur Sunday World aangekondig.
Die jazz-ikoon Sipho Hotstix Mabuse het ook die nuus op sosiale media bevestig en hulde aan Bosman gebring.
Net verlede maand is Bosman verkies as lid van die Suider-Afrikaanse Musiekregte-organisasie (Samro) se raad van direkteure.
Bosman is in Soweto gebore en het ‘n verskeidenheid musiekgenres bemeester. Benewens jazz het sy ook bygedra tot rock en gospel tydens haar loopbaan.
Nog daarby was sy ‘n gewilde vervaardiger, komponis en aanbieder.
Bosman het die verhoog gedeel met musikale legendes soos Hugh Masekela, Sibongile Khumalo, en Mabuse.
Sy het verskeie toekennings gedurende haar loopbaan verwerf, en haar debuutalbum Tranquility was verkies as top nuweling by die Suid-Afrikaanse Musiektoekennings.
Bosman word oorleef deur haar dogter en kleindogter.
Saamgestel deur Dylan Bettencourt
Op die foto hierbo: Gloria Bosman
Fotobron: Gloria Bosman-webwerf