Die dag toe Pele 90 minute van vrede in Nigerië vermag het

Deur Razeen Gutta

Toe Pele Benin City in 1969 besoek het te midde van ‘n burgeroorlog, het dit die toekoms van Nigeriese sokker vir altyd verander.

Terwyl Nigeriese regeringsmagte en Biafraanse onafhanklikheidsvegters verstrengel was in hewige gevegte, het die 28-jarige tweemalige Fifa Wêreldbeker-wenner die toneel betree en onmiddellik ‘n wapenstilstand bewerkstellig.

Pele, een van die beste spelers wat nog ooit ‘n sokkerveld betree het, word regoor Afrika geëer danksy sy verbintenis met die vasteland.

Die pronkwedstryd tussen die plaaslike Mid-Western State XI en die Brasiliaan se geliefde Santos het ‘n kapasiteitsskare gelok, wat vir 90 minute van hul gewere vergeet het en verenig het om hulle te verlekker in die beeldskone spel.

Pele word alom gerespekteer in Nigerië, maar daar is min mense wat sy nalatenskap beter kan beskryf as die Midde-Westelike Staat se goewerneur, Samuel Ogbemudia, wat vyf dekades gelede gehelp het om die wedstryd te reël.

“Pele se besoek het vele uitvloeisels gehad. Die Nigerië-sokkervereniging, waar ek vir meer as 10 jaar betrokke was, het na Brasilië begin kyk en hulle nageboots. Spelers is aangemoedig om soos Brasiliane te speel,” het Ogufere aan BBC Sport Africa gesê.

“Dit het daartoe gelei dat Nigeriërs Brasilië besoek het, en Nigerië het ook ’n Brasiliaanse afrigter, Otto Gloria, gehuur wat ons gehelp het om die Afrikabeker vir die eerste keer in 1980 te wen.”

“Ons was almal baie hartseer om hom te verloor, maar hy het ‘n onuitwisbare stempel afgedruk, wat spelers altyd moet probeer nastreef.”

Godwin Izilein, wat die tuisspan op 4 Februarie 1969 aangevoer het toe Santos met 2-1 gewen het, het verduidelik hoe Ogbe Stadion op daardie dag gelyk het.

“Dit het alles oor Pele gegaan. Voor eenuur was die stadion stampvol en dit was moeilik vir mense om sitplekke te kry omdat hulle so angstig was om Pele se meesterlikheid te ervaar,” het Izilein aan BBC Sport Africa gesê.

“Pele was entoesiasties om van my planne te verneem. Hy het gevra: ‘Wil jy my na Brasilië volg?’ En ek het nee gesê.”

“Niemand was op daardie stadium opgewonde oor die vooruitsig om te reis nie. As dit vandag was, het ek hulle reguit van die veld af gevolg.”

Op die foto hierbo: Pele

Fotobron: @africansilver