COPS HELP DIEF TOE GESTEELDE KAR BREEK

Deur Karabo Rammutla

Toe ’n gesteelde kar op ’n deurpad in Bronkhorstspruit breek en ’n polisiekar hou stil, het ’n dief gedink dis verby met hom.

Hy kon nie sy geluk glo toe die twee polisielede aanbied om hom te help om die kar in die dorp te kry nie!

Tshwane se Metropolisie was Sondag op patrollie toe hulle ’n man opmerk wie se kar op die R25 gaan staan het.

Dis daar waar ubuntu inskop. Hulle wou keer dat die man nog ’n slagoffer van misdaad word, en vra hom of hulle kan help.

Die dief het koel en kalm probeer lyk, en gesê sy kar het gebreek. Uit pligsbesef begin die cops die kar toe terugstoot dorp toe.

Maar terwyl hulle besig is, kry hulle ’n boodskap op die radio om ’n ogie oop te hou vir ’n kar wat Saterdag as gesteel aangegee is.

Die beskrywing het die kar gepas wat hulle so welwillend die dorp ingehelp het.

Die TMPD se segspersoon, Superintendent Isaac Mahamba, het gesê die oomblik toe hulle sien die Chevrolet Spark is as gesteel aangegee, het dinge verander.

“Die bestuurder is daar en dan in hegtenis geneem vir die besit van ’n gesteelde voertuig.”

Die verdagte behoort binnekort in Bronkhorstspruit se Landdroshof te verskyn.

Die cops is op Facebook gelukgewens… en die dief het onder ’n spottery deurgeloop.

In die foto hierbo: TMPD polisielede het ’n motoris gehelp nadat sy kar gaan staan het, en gou agtergekom die kar was gesteel.

Fotobron: TMPD