Borsslag kry nuwe betekenis in Berlyn

Owerhede in Duitsland se hoofstad het verklaar dat dit nou wettig is vir vroue om bostukloos by swembaddens uit te hang.

Die stadsvaders het verlede week gesê dat vroue, nes mans, toegelaat sal word om te swem sonder om die boonste helfte van hul liggame te bedek.

Die besluit is deurgevoer nadat ‘n 33-jarige vrou ‘n klag ingedien het omdat sy in Desember by ‘n swembad verbied is aangesien sy bostukloos was, het Insider berig.

“Die stad se besluit om bostuklose swem toe te laat is veronderstel om gelyke regte vir alle Berlyners te skep, hetsy manlik, vroulik of nie-binêr,” het Doris Liebscher, kantoorhoof van die stad se ombudsman vir gelyke behandeling teen diskriminasie, in ‘n persverklaring gesê.

Liebscher het bygevoeg dat die uitspraak regsekerheid sal bied vir personeel wat by openbare swembaddens werk.

Vorige beslissings rakende openbare swembaddens het verklaar dat besoekers “tradisionele swemdrag” moes dra.

Maar nou is die enigste reël dat beide mans en vroue die onderste helfte van hul liggame bedek, tensy hulle ‘n nudistestrand besoek.

Berlyn is nie die eerste Duitse stad wat hierdie kwessie met regverdigheid en inbors hanteer nie. Goettingen het al laas Mei kaalbolyfswem vir alle genders geoorloof, maar daar geld die reël slegs oor naweke.

Duitse kultuur skram nie weg van lyfwys nie, met meer as 130 nudisteklubs landswyd.

So dames, as julle kaalbors die swembad wil aandurf, is verhuising na Duitsland miskien net die ding.

Op die foto hierbo: So rug moet sonskerm kry – en in Berlyn geld dit ook vir borste

Fotobron: iStock