Booswigte wat beskerming beloof ontneem enkelma van inkomste

Deur Buziwe Nocuze

‘n Ma van vyf kinders is gedwing om haar hoenderpootverkope langs die Kaap se strate op te skort nadat vier mans haar wou dwing om ‘n beskermingsfooi te betaal.

Hierdie fooie is geld wat misdadigers van sake-eienaars eis in ruil vir “beskerming” – maar dis eintlik net ‘n flou verskoning om hulle af te pers.

Die 45-jarige slagoffer het drie jaar gelede uit desperaatheid begin om hoenderpote te verkoop. Sy was moeg om vir aalmoese te bedel, en het besluit om die geld wat sy gemaak het deur klere te was, te gebruik om hoenderpote aan te koop. Die krapperige happies het sy toe langs die strate van Lower Crossroads, Philippi-Oos, in Kaapstad begin verkoop.

Verlede Vrydag het vier mans haar egter besoek en haar glo beveel om hulle R300 per maand te betaal om sodoende hul beskerming te verdien.

“Hulle wil hê ek moet R300 op die 15de van elke maand betaal. Ek het vir hulle gesê ek maak skaars soveel geld uit my hoenderverkope, maar hulle gee nie om nie. Hulle dring aan op die geld,” het sy gesê.

Dit het niks gehelp toe sy aan hulle verduidelik dat sy as enkelma probeer om vir haar kinders kos op die tafel te sit nie. Die mans het haar beveel om of die geld te betaal, of op te hou verkoop.

“Hulle het gevra of ek enige geld opsysit vir noodgevalle, en het my aangeraai om dit te gebruik om hulle te betaal, om sodoende my veiligheid te verseker,” het sy gesê.

Sy is ongelukkig nie die enigste mens wat haar besigheid moes toemaak weens die beskermingsfooislenter nie.

“Hulle het dieselfde gedoen aan my vriend wat groente verkoop, maar ek het nooit gedink hulle sou geld eis van iemand wat hoenderpote verkoop nie,” het sy gesê.

Wes-Kaapse SAPD-woordvoerder Luitenant-kolonel Malcolm Pojie het gesê die winsgewende besigheid van afpersing kan nie geduld word nie en is ‘n misdaad wat strafbaar is in die hof.

“Ons raai enige slagoffers van afpersing aan om hierdie gevalle vroeër liewer as later by hul plaaslike polisiestasie aan te meld,” het Pojie gesê.

Op die foto hierbo: ‘n Vrou van Kaapstad is gedwing om haar hoenderpootverkope te staak nadat vier mans ’n beskermingsfooi van R300 per maand geëis het.

Beeldbron: Buziwe Nocuze