Deur Everson Luhanga en Zukile Majova
Die vakbond Nehawu gaan voort met sy staking – teen die interdik van die Arbeidshof in, wat alle noodsaaklike werkers aangesê het om terug werk toe te gaan.
Nehawu lei die huidige landwye loonstaking in die openbare dienste-regeringsektor. Die vakbond se 300 000 lede het chaos in die land se openbare hospitale gesaai deur pasiënte en ambulanse se toegang tot die gesondheidsentrums te versper.
Die regering win regsadvies in oor die moontlikheid om die vakbond te dagvaar vir sterftes wat onteenseglik deur die staking veroorsaak is.
Nehawu se president, Mike Shingange, het gesê die interdik is net op noodsaaklike werkers van toepassing. Die staking gaan voort.
“Die interdik is nie teen die staking nie. Die staking in die res van die openbare sektor is verskans en gaan voort,” het hy verklaar.
Shingange hou daarby dat die hof nie ’n aansoek om ’n beëindiging van die staking aangehoor het nie, en dat die beslissing spruit uit ’n dringende aansoek deur die staat dat noodsaaklike dienste nie ontwrig moet word nie.
“Die regter het gefokus op noodsaaklike dienste en veral in hospitale. Dit is waar ons ’n terugslag beleef het,” het hy aan Newzroom Afrika gesê.
“Daar is nog moontlikhede wat ons kan verken. Maar ons moet ons aan die hofbeslissing onderwerp totdat ons ’n nuwe plan van aksie uitgewerk het.”
Inmiddels het die Minister van Gesondheid, Joe Phaahla, gesê hy verwag van noodsaaklike werkers om vandag (Dinsdag) terug te keer werk toe. Anders sal hulle hulleself skuldig maak aan minagting van die hof.
Hy het tydens ’n virtuele mediakonferensie gesê hulle glo stakende lede van Nehawu het mense se dood veroorsaak. Verlede week het hy gesê hulle het vier sulke sake.
Maandag het die Suid-Afrikaanse Weermag militêre gesondheidswerkers ontplooi ná ’n versoek van die Departement van Gesondheid.
Phaahla het gesê die weermag het meestal verpleegpersoneel gestuur, en ’n paar dokters en ondersteuningspersoneel, wat klaar ’n groot verskil gemaak het in hospitale waar pasiënte sonder kos en medisyne moes klaarkom.
In die foto hierbo: Stakers brand motorbande by Bheki Mlangeni Hospitaal in Soweto
Fotobron: Everson Luhanga