Ultra tragedie: Costa Titch stort ineen onder kollig

Deur Scrolla.Africa skrywer

Costa Titch het die laaste aand van sy bestaan spandeer aan’t lyfskud onder helder verhoogligte, tot groot vreugde van sy vele aanhangers.

Niemand kon voorsien dat sy optrede in Johannesburg onder die Ultra musiekfees se flikkerglans, sy laaste ooit sou wees nie.

Danser en musikant Costa Tsobanoglou, 27, alom bekend as Costa Titch, is Saterdagaand dood nadat hy glo ‘n epilepsie aanval gekry het tydens sy Ultra optrede.

In ‘n video wat sosiale media laat gons, word Costa Titch dansend gesien, voordat hy strompel en skielik op die grond ineenstort. ‘n Persoon op die verhoog help hom opstaan. Hy probeer sy optrede voortsit, maar hy val dan weer neer op die helder verligte verhoog, omring deur aanhangers en Ultra personeel.

Costa Titch het die vermenging van Amapiano en hip-hop bemeester, en is bekend vir liedjies soos Big Flexa, Goat, en Just Do It.

Die Nelspruit boorling se dood is die mees onlangse verlies van ‘n rapper, tot die skok van  vele Suid-Afrikaanse aanhangers van die genre.

In Februarie is die rapper AKA, regte naam Kiernan Jarryd Forbes, tydens ‘n koelbloedige skietvoorval in Durban dood. Net ‘n jaar voor AKA se moord, in Februarie 2022, het rapper Rikhado Makhado, alombekend as Riky Rick, selfmoord gepleeg in sy ateljee in Johannesburg. Beide AKA en Riky Rick was bevriend met Costa Titch.

Mense in die musiekbedryf, politici en musiekmal lede van die publiek het hul hartseer oor Costa Titch se dood op sosiale media uitgespreek.

Video hierbo: Costa Titch

Bron: Instagram