Kraanvoël is Mohammad se beste maat

Ons weet almal dat honde as die mens se beste vriend beskou word, maar geen glimlaggende labrador het nog ooit die soort vriendskapsbande gesmee as dié tussen ‘n man in Indië en sy troetelkraanvoël nie.

Mohammad Arif en sy geliefde Sarus is onafskeidbaar sedert hy die kraanvoël verlede jaar op sy grond in Uttar Pradesh gevind het.

Mohammed was aan’t werk op die lande toe hy ‘n erg beseerde voël tussen die oesgoed gewaar het. By nadere ondersoek het hy besef die kraanvoël was erg bebloed en sy regterbeen gebreek.

Hy het nie twee keer gedink nie. Hy het die voël, wat hy Sarus gedoop het, opgetel en huis toe geneem.

“Ek het net my plig as mens gedoen toe ek hom daar in die veld sien lê,” het Mohammed aan die Times gesê.

Nadat hy hom tuis aan sy vrou, twee kinders en ouers gewys het, het die 30-jarige Mohammed ‘n klomp boererate probeer om Sarus gesond te maak. Hy het aan die publikasie vertel dat mosterdolie en borrie die wenkombinasie was.

Mohammed het aanvanklik gedink dat Sarus sou wegvlieg sodra hy herstel het, maar die voël het toe nooit sy ry wou kry nie.

“Ons bind hom nooit vas of sit hom in ‘n hok nie. Dit is hoekom Sarus ons nie verlaat het nie,” het hy gesê, en bygevoeg dat die voël soms vir ‘n dag lank sal vort – maar hy keer altyd teen sononder terug.

Miskien die mees skouspelagtige bewys van hul vriendskap is wanneer Mohammed met sy motorfiets dorp toe ry, en Sarus hom in grasieuse vlug begelei.

Mohammed het van hierdie uitstappies saam met sy geveerde vriend – wat ‘n vlerkspan van 2.5 meter het – op film vasgelê.

Saamgestel deur Arthur Greene

Op die foto hierbo Mohammed Arif en sy beste vriend, Sarus

Fotobron: Twitter