Deur Everson Luhanga
Busisiwe Mbatha moes vir jare aanhoor hoe haar polisieman lewensmaat geloof word as voorloper in die stryd teen geslagsgeweld. Maar agter geslote deure moes sy ondraaglike mishandeling verduur.
Die sadistiese speurkonstabel het skokgolwe deur die Gautengse SAPD gestuur nadat hy Donderdagaand in hegtenis geneem is omdat hy vir Busisiwe aangeval het.
Die beampte, verbonde aan Brakpan se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe, word aangekla van aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Maar dit is beswaarlik die eerste keer wat die polisieman daarvan beskuldig word dat hy sy hande teen Busiswe lig.
Scrolla.Africa het haar aan’t huis besoek en sy het verduidelik hoe ondraaglik dit is om mishandel te word deur ‘n sogenaamde wetstoepasser.
“Ek het soms saam met hom werk toe gegaan, waar hy verdagte geslagsgeweldenaars sou arresteer – dit terwyl hy my op dieselfde manier as die slagoffers mishandel wat na hom toe kom vir hulp,” het sy gesê.
“Die aanrandings het vroeg in ons verhouding begin, toe hy my daarvan beskuldig het dat ek hom verneuk.
“Hy sou sonder vooraf kennis by my huis aankom, en soms het hy my na my werk toe agtervolg.”
Die ma van twee het verskeie kere gesê dat sy hom vergewe het wanneer hy haar die dag na ‘n aanranding kom smeek het om hom terug te neem.
Sy het gesê in 2021 het hy haar so ernstig aangerand dat sy ‘n baba verloor het.
“Ná die miskraam het hy my daarvan beskuldig dat ek sy kind laat aborteer het, maar dit het gebeur nadat hy my geslaan het,” het sy gesê.
“Op 20 Julie 2022 het hy saam met sy broers gekom en my erg aangerand terwyl sy broers toekyk,” het sy beweer.
Ná hierdie aanranding is Busisiwe deur die beampte se familie oortuig om geen klagtes te lê nie.
Maar ‘n polisiebeampte van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opid) wat aangewys is om die saak te ondersoek, het geweier om dit daar te laat. Sy het die man in Julie laas jaar gearresteer.
Die verdagte moet op 27 Maart na Protea Landdroshof terugkeer om vir dié aanranding verantwoording te doen.
Opid woordvoerder Lizzy Suping het gesê: “Die vrou het probeer om die saak terug te trek, maar die versoek is deur die staat van die hand gewys. Sy is ingelig dat gevalle van geslagsgeweld en vrouemoord nie teruggetrek kan word nie.”
Suping het gesê die beampte was uit op borg vir die vorige aanranding. Volgens sy borgtogvoorwaardes was hy nie toegelaat om met die slagoffer kontak te maak nie.
Opid het die slagoffer bygestaan om ‘n tweede saak teen die polisiebeampte te maak en die inligting sal gebruik word om by die howe aansoek te doen om sy vorige borgtog terug te trek, het Suping gesê. “Hy sal Maandag in Protea Landdroshof verskyn vir hierdie nuutste aanrandingsaak.”
Foto hierbo: Foto geneem deur Busisiwe Mbatha verlede Donderdag nadat haar aanvaller in hegtenis geneem is
Beeldbron: verskaf