Plaaslike polisie soek Manchester City-sokkerspeler Kyle Walker se bloed omdat hy Sondagaand die binnegoed van sy broek in ‘n kroeg ontbloot het.
Die 32-jarige regteragterspeler is twee keer op kamera vasgelê tydens pogings om sy privaatdele aan omstanders in die Manchester uithangplek af te wys.
Die Engelse internasionale ster het Sondag omstreeks 5nm by die kroeg aangekom, ongeveer 24 uur nadat sy span vir Newcastle United met 2-0 verslaan het.
Die videomateriaal wat binne die kroeg geskiet is wys hoe Walker een van die twee dames in sy geselskap soen; nie een van hulle was die vrou met wie hy getroud is nie.
Minute later lykryk dit of Walker se opgewondenheid die oorhand, en trek hy sy broek af voor die twee vroue.
Dit was duidelik dat Walker by die kroeg was om sy gate uit te geniet. Toe hy omstreeks 7nm die pad vat, het hy vergeet om sy rekening te betaal.
Hy het wel soos ‘n ware heelagter teruggeval om later die aand sy uitstaande kostes te delg.
‘n Woordvoerder van die Cheshire-polisie het gesê: “Op Woensdag 8 Maart is ons ingelig van ‘n video wat op sosiale media die rondtes doen, met betrekking tot ‘n onsedelike blootstelling wat na bewering in die Wilmslow-omgewing plaasgevind het.
“‘n Ondersoek oor die voorval is nog in ‘n vroeë stadium en geen arrestasies is sover gemaak nie.”
Walker het drie kinders saam met sy vrou, Annie. Die egpaar is in November 2021 getroud.
Annie is glo briesend vir haar man en bekommerd oor die gevolge vir hul gesin.
Onsedelike blootstelling word as ‘n seksmisdryf geklassifiseer, en afhangende van die erns van die oortreding kan ‘n maksimum vonnis van tussen ses maande en twee jaar opgelê word.
Dis ook nie Walker se eerste oortreding nie. In 2020 het hy Covid-19-regulasies verbreek deur twee gesellinne na ‘n partytjie toe te nooi.
Sy spanmaat van Manchester City, Benjamin Mendy, was ook gewikkel in omstredenheid nadat hy van verkragting en seksuele aanranding beskuldig is.
Die Fransman is vroeër vanjaar van hierdie aanklagte vrygespreek.
Saamgestel deur Dylan Bettencourt
Op die foto hierbo: Kyle Walker
Fotobron: Kyle Walker Twitter