Swanger vroue deur werker-staking getref

Deur Anita Dangazele

Swanger vroue wat wag op dringende keisersneë by Dora Nginza Hospitaal in Gqeberha, se operasies kan onbepaald uitgestel word as gevolg van werkers wat staak vir beter vergoeding.

’n Gefrustreerde vrou wat haar eerste baba verwag en haarself net as Amanda identifiseer, het aan Scrolla.Africa gesê sy vrees vir haar ongebore kind se lewe.

“Ek is regtig bang Ek is besorg oor my baba want dié naweek sal ek 40 weke swanger wees. Ek het Sondag ingekom, en was veronderstel om Dinsdag teater toe te gaan,” het sy gesê.

’n Verpleegster wat anoniem wil bly, het gesê sy het siekverlof geneem omdat sy nie deur stakende kollegas geïntimideer wil word nie.

“Hulle is gewelddadig en drink selfs tydens die betogings. Ek wil nie deel daarvan wees nie. Ek het my dokter gaan spreek sodat hy my kan afboek. Hulle laat ons nie toe om te werk nie, so ek bly eerder tuis as om gedreig te word. Hulle is woedend,” het sy aan Scrolla.Africa gesê.

Ondertussen het die Ooskaapse Departement van Gesondheid beweerde gewelddadige optrede en intimidasie deur stakende lede van Nehawu verdoem.

Die LUR vir Gesondheid, Nomakhosazana Meth, het gesê drie van die vyf vakbonde steun nie die staking nie, en is besorg dat hulle lede geïntimideer word en verhinder word om by hulle werkplekke uit te kom.

“Ons verstaan dat werkers die reg het om te betoog, maar indien hulle dit sou doen, kan hulle nie inbreuk maak op ander se regte nie. Ons kan nie situasies bekostig waar die lewens van pasiënte en nie-stakende personeel in gevaar gestel word nie,” het sy gesê.

Die Ooskaapse Departement van Gesondheid het gesê die beginsel van geen werk, geen betaling sal op stakende hostipitaalpersoneel van toepassing wees.

Die Departement van Openbare Dienste stel ’n verhoging van 4.7% voor, en die vakbond eis 10-12%.

In die foto hierbo: Stakende werkers in Gqeberha

Fotobron: Anita Dangazele