Mantashe: Steenkool is hier om te bly

Deur Zukile Majova

Steenkool gaan baie van ons oorleef. En Suid-Afrika gaan nie deur buitelandse magte gedwing word om sy steenkool-aangedrewe kragstasies te laat vaar nie.

So sê Gwede Mantashe, die minister van Minerale- en Energiesake, wat veronderstel is om Suid-Afrika uit die huidige energiekrisis te lei.

“Diegene wat sê ons moet steenkool laat vaar, gaan teleurgesteld wees. Steenkool gaan baie van ons oorleef,” het Mantashe aan afgevaardigdes by die 2023 Afrika-Energie-Indaba by die Kaapstadse Konvensiesentrum gesê.

Mantashe is ’n sleutelspeler is die implementering van die R155-miljard Regmatige Energie-Oorgangraamwerk, om die land na ’n lae-koolstof toekoms te lei.

Daar is maande lank berig dat Mantashe die grootste struikelblok vir die massa-instelling van hernubare energiebronne is.

Dat sy hart nie op hernubare energie is nie, is lank in diplomatiese ondertone verskuil, wat na ’n voorkeur vir gemengde energiebronne verwys as ’n langtermynoplossing vir die elektrisiteitstekort in die land.

Maar die handskoene het by die Indaba afgekom. Hy het ’n beroep op Afrika-nasies gedoen om nie toe te laat dat Europese lande energie-oplossings aan hulle voorskryf nie.

“Ons moet onsself herinner dat die Europese Unie besluit Uganda moenie sy eie olieneerslae ontwikkel nie.

“Maar dit is nie Uganda nie, dis Europa wat ’n besluit neem en dit op Uganda afdwing.

“Dit is dieselfde besluit dat ons nie aan steenkool moet raak nie. Dis nie ons besluit nie.

“Dit is ’n besluit van ontwikkelde ekonomië. Agente [Green Peace-aktiviste] is hier om dit vir ons te sê. Ons moet dit met alles tot ons beskikking teenstaan,” het Mantashe gesê.

Mantashe – wat herverkies is as nasionale voorsitter van die regerende party – het President Cyril Ramaphosa se ANC se jongste besluit oorgedra.

Suid-Afrikaners verloor tussen agt en 12 ure se krag per dag omdat Eskom se verouderde steenkool-kragstasies gereeld breek en glad nie in staat is om die minumum vereiste van 30 000 MW te lewer om die land se ekoniomie te help herstel nie.

Beurtkrag kos die land meer as R1 miljard rand per dag, en Nedbank skat inwoners van die land het laasjaar meer as R1,2 miljard uitgegee om hulle huise teen 200 dae se kragonderbrekings te beskut 

In die foto hierbo: Greenpeace-aktiviste betoog teen “steenkool-fundamentalis” Gwede Mantashe

Fotobron: Twitter