Hof beveel man om sy eks-vrou miljoene vir huiswerk te betaal

’n Hof in Spanje het ’n man beveel om sy eks-vrou amper R4-miljoen te betaal vir 25 jaar se huiswerk.

Regter Laura Ruiz Alaminos het die enorme bedrag aan Ivana Moral toegestaan in ’n egskeidingsbevel. Die bedrag is bereken as ’n minimumloon vir al die werk wat sy deur die jare gedoen het.

Die regter het gehoor dat Ivana verantwoordelik was vir al die huishoudelike takies, en ook na hulle twee kinders moes kyk.

Die egskeidingsbevel lui dat sy “uitsluitlik in die huis gewerk het, wat beteken het sy moes na die huis en die gesin omsien”.

Elkeen was onderstel om hulle eie bates ná die egskeiding te behou, was sou beteken het dat Ivana met leë hande wegstap.

In gesprek met die radiostasie Cadena Ser radio het Ivana gesê haar gewese man het haar verbied op buite die huis te werk.

“Ek het myself eksklusief aan my gesin en my huis afgestaan. Hy het my spesifieke rolle laat vervul, wat beteken het ek kon nie veel anders doen nie,” het sy gesê.

Die hof in Velez-Malaga, in die suide van Spanje, het ook beveel dat die man maandeliks onderhoud vir die sorg van hulle twee dogters betaal. Een is minderjarig, die ander een ouer as 18.

Wenk aan mans: help met die huiswerk, of jy kan ’n stewige rekening in jou posbus ontvang! 

Saamgestel deur Dylan Bettencourt

In die foto hierbo: Vroue wat skoonmaak

Fotobron: Pexels