Deur Buziwe Nocuze
Inwoners van Nyanga, een van Kaapstad se gevaarlikste buurte, sê hul veiligheid word benadeel deur die stukkende polisievoertuie wat buite die plaaslike polisiestasie geparkeer is.
Gemeenskapslede beweer dat ten minste sewe polisievoertuie in onbruik is, die meerderheid van hulle met pap bande.
Inwoner Nolusuindiso Jekana is bekommerd oor die talle nuttelose voertuie.
“Nyanga is een van die gevaarlikste townships in die Kaap. Ons is die moordhoofstad. Ons moet elke moontlike voertuig op die pad hê,” het Jekana gesê.
Nog ‘n inwoner wat gevra het om anoniem te bly, het na die polisiestasie gegaan om ‘n saak van mishandeling teen haar kêrel te maak. Sy is aangesê om te wag, maar het uiteindelik vertrek sonder dat sy enige hulp ontvang het.
“Ek het verniet gewag. My kêrel het selfs gebel om te sê as daar nie ‘n polisievangwa is om hom op te laai nie, hy ‘n taxi sal neem polisiestasie toe.”
Lubabalo Class het die polisiestasie besoek om sy dokumente te sertifiseer toe hy ‘n vrou hoor kla het oor sy verewig vir ‘n polisievoertuig moes wag.
“Daardie dame het meer as ses uur lank gewag vir ‘n polisievangwa wat by ‘n ander saak betrokke was. Sy het uiteindelik huis toe gegaan sonder om gehelp te word,” het Class bygevoeg.
Die situasie het vrae laat ontstaan oor die regering se verbintenis tot die verskaffing van noodsaaklike dienste aan gemeenskappe.
Die voorsitter van die Nyanga-gemeenskapspolisiëringsforum, Dumisani Qwabe, het gesê hy weet dat ‘n versoek om die pap bande reg te maak na die staatsgarage gestuur is.
“Ek ken die betrokke departement. Die werktuigkundiges wat hulle gebruik kan nie die stukkende voertuie hanteer nie. In plaas daarvan om soveel motors geparkeer te laat staan terwyl misdaad gedy, gee liewer die werk aan ander mense,” het Qwabe gesê.
Kaptein Frederick van Wyk, Wes-Kaapse SAPD-woordvoerder, weet van die probleem en het gesê die stukkende voertuie geniet die aandag van die bestuur, aangesien hulle weet dit belemmer doeltreffende dienslewering.
“Meganiese hulpbronne soos voertuie is geneig om instandhouding te verg of onklaar te raak as gevolg van die feit dat dit vir 24-uur van die dag gebruik word,” het hy gesê.
“Wanneer voertuie buite werking is weens instandhouding of omdat hulle gebreek is, word alternatiewe maatreëls getref sodat polisiëring nie geraak word nie.”
Hy het nie verder uitgewei nie.
Op die foto hierbo: Meer as sewe Nyanga SAPD-voertuie is buite werking, die meeste van hulle met pap bande, wat kommer wek oor doeltreffende polisiëring in die gebied.
Fotobron: Buziwe Nocuze