Deur Nadine Theron
’n Queer-produksiegmeenskap, genaamd Queer Food-Growing Collective daag alle tradisionele idees van voedselproduksie uit.
Die Queer Good Growing Collective beskryf hulself as ’n plek waar mense hul inheemse verhouding met grond, voedsel en identiteit kan herstel.
Die idee het twee jaar gelede wortel geskiet toe ’n groep mense wat deur die Triangle Project NPO vir LGBTQi-menseregte ontmoet het, iets wou doen oor die erge voedselnood in hulle gemeenskappe.
“Ons het opgelet daar is verskeie oop stukke grond waar mense groente kan plant,” sê Carol Lennon, een van die stigters en Triangle Project se verpleegster.
Die projek het in Augustus verlede jaar begin en daar is reeds twee gemeenskapsplase in Elsiesrivier, een in Mfuleni, een in Lwandle in die Strand en een by ’n kerk in die Paarl.
“Ons wou meer queer mense in voedselproduksie sien sodat ons kan voel ons hoort tuis daar,” sê Ling Shepard, kommunikasiebestuurder van die Triangle Project.
Van die begin af was die kollektiewe besluit dat daar geen hierargie sal wees nie. Hoewel die Triangle Project help met reëlings, is die groep onafhanklike mense almal vrywilligers met ander beroepe.
“Queer mense is dikwels baie alleen omdat hulle gemeenskappe, families, of kerke hulle verwerp het. Maar ’n ondersteuningsgemeenskap vorm vanself in groentetuine,” sê Carol.
Só takel hulle twee vorms van onderdrukking op een slag: die onderdrukking van geslagsidentiteit en die onderdrukking van die tradisionele landboubedryf wat deur die politieke geskiedenis van Suid-Afrika ontstaan het,
Die groep verwerp tradisionele boerderymetodes wat op inheemse mense afgedwing is.
“Die feit dat ons queer is, beïnvloed ons verhouding met die aarde en met dit wat ons plant. Ons gebruik die uitdrukking van ons identiteit om grense in voedselproduksie te verskuif,” verduidelik Ling.
“Voedselproduksie help ons om die kruising van ons queer- en inheemse identiteite te genees,” sê hulle.
“Die onregte van die verlede het ons mense van grond en hulpbronne ontneem, so deur ons eie voedsel te produseer kan ons die pad terug na ons wortels en ons voorouers se leefstyl vind.”
Daarom word inheemse kruie en medisinale plante gekweek, en inheemse praktyke wat meer volhoubaar en omgewingsvriendelik is ingespan.
Die queer kollektief werk saam met ander inklusiewe voedselprodusente en deel hulle produkte met die omringende gemeenskappe.
Groente, vrugte, kruie, medisinale plante, en selfs hoenders floreer op die QFGC se gemeenskapsplase. Hierdie groen ruimtes produseer nie net nodige voedsel nie, maar dra ook by tot die omliggende gemeenskappe se gesondheid en veiligheid.
Op die foto hierbo: Al die veld is vrolik by Queer Food-Growing Collective
Fotobron: Verskaf