Deur Khaya Ndaba
Vir jare nadat sy in ‘n motorongeluk verlam is, het Nadine Mckenzie se liefde vir dans haar gemoed gesond gehou.
As kind was Mckenzie in ‘n ongeluk betrokke wat haar van die middellyf af ondertoe lam gelaat het.
Dekades later – sy is nou 33 jaar oud – inspireer sy steeds, onder andere deur haar loopbaan as uitvoerende kunstenaar. Haar liefde vir die kunste het haar motiveer het om nuwe werk te skep en platforms te bied vir mense wat leef met gestremdheid.
Mckenzie was deel van die onlangse A Gathering in a Better World-fees, wat die Goethe Institut, Centre for The Less Good Idea, Festival Theatreformen, en die Marketteater betrek het.
Die vyf-dag fees het gefokus op inklusiwiteit, kuns, dialoog en bewustheid oor die lot van mense met gestremdhede, en hoe hulle by die artistieke skepping van werk ingesluit kan word.
Na ‘n week van optredes wat die koppe laat draai het, kon Mckenzie tyd inruim om met Scrolla.Africa te praat.
“Ek was aangevuur om die geleentheid te skep en het met konseptuele idees vir ‘n kunstefees vorendag gekom,” het sy gesê.
“Soveel as wat ons hierdie platform geskep het om kunstenaars met gestremdhede uit te wys en bewustheid te skep, wil ons regtig ook die kollig rig op werk. Ons wil in dieselfde lig as enige ander kunstenaar gesien word.”
Op dag twee van die fees is gehore getrakteer op ‘n dansstuk genaamd Timelapse, wat kunstenaars soos Darion Adams, Andile Vilem en Tezmine Adams, almal met verskillende gestremdhede, bymekaargebring het. Saam met Nadine is daar gedans om temas soos liefde, verwerping, tyd en ruimte te verken.
Nadine in haar rolstoel was een van die produksie se hoofdansers.
“Wanneer die vier van ons dans, behandel ons die rolstoel as vyfde kunstenaar. Dit was nog nooit net ‘n voorwerp of stut nie. Dit beweeg saam met ons regdeur die opvoering so ons werk daarmee, beperkings en al, sowel as die beperkings van ons eie liggame in die gegewe ruimte,” het sy verduidelik.
Mckenzie is nie net ‘n uitvoerende kunstenaar nie, maar tree ook op as mede-kurator van die kunstefees.
Nog daarby is sy een van die stigters van die Unmute Dance Theatre, gestig saam met die ontslape Themba Mbuli – ‘n bekroonde kontemporêre danser en choreograaf. Die Unmute Dance Theatre is ‘n inklusiewe dansgeselskap wat mense met verskillende vermoëns toelaat om saam te gesels, te skep en te werk.
Op die foto hierbo: Nadine Mckenzie
Fotobron: Verskaf