KYK: Oekraïnse tennisstar weier om Rus se hand te skud

Nadat die Oekraïner Marta Kostyuk haar eerste titel van die Vroue-Tennisvereniging (WTA) gewen het, het sy geweier om haar Russiese teenstander, Varvara Gracheva, se hand te skud.

Sy het haar sege opgedra aan die mense “wat in Oekraïne teen Rusland veg en sterf”. Sy het die eindstryd in Austin, Texas, met 6-3, 7-5 gewen. 

“In die posisie waarin ek my nou bevind, is dit baie spesiaal om hierdie titel te wen,”

het Kostyuk gesê.

By die Australiese Ope, die jaar se eerste Grand Slam, het Kostyuk gesê sy sou nie die hand van enige Russiese of Belarussiese teenstander skud nie. 

Verlede November het sy geweier om hand te skud met die Belarussiër Victoria Azarenka. 

Dit is die eerste WTA-toernooisege vir ’n Oekraïner sedert dié van Elina Svitolina in 2021. 

Die sege skuif haar op na die 40ste plek op die wêreldranglys vir vroue.

Saamgestel deur Dylan Bettencourt

In die foto hierbo: Marta Kostyuk

Fotobron: WTA