Dricus du Plessis moker spyker op die kop

Deur Dylan Bettencourt

Vegter Dricus du Plessis het bietjie met die perdebynes geneuk nadat hy Sondag vir Derek Brunson uitgeklop het tydens ‘n UFC 285-toernooi.

Op die perskonferensie ná die geveg het Du Plessis vir Israel Adesanya, Kamaru Usman en Francis Ngannou as “vals Afrikane” bestempel.

Die Suid-Afrikaner het beweer dat die wen van die middelgewigtitel hom Afrika se eerste ware kampioen maak, al was Ngannou, Adesanya en Usman almal vantevore op die top podiumtrap.

“Het daardie gordels ooit in Afrika aangeland? Sover ek weet, het hulle na Amerika en Nieu-Seeland gereis. Ek vat ‘n gordel Afrika toe,” het Du Plessis gesê.

“Ek is die Afrika-vegter in die UFC.”

Hy het gesê hy en sy spanmaat Cameron Saaiman is ware Afrikane wat Afrika-lug inasem.

“Ons word elke dag in Afrika wakker. Ons oefen in Afrika. Ons is in Afrika gebore, ons is in Afrika grootgemaak, ons woon steeds in Afrika,” het hy gesê.

“Dis nou vir jou ‘n Afrika-kampioen.”

Ngannou, Adesanya en Usman het almal hul afkoms gebruik om gewildheid regoor Afrika te verkry – maar het eers verskyn na die goud gewen is, en as wenners opgedaag eerder as om die kontinent se op- en afdraandes te trotseer.

Ngannou is in Kameroen gebore, maar veg uit Frankryk; Adesanya het Nigeriese bloed, maar veg uit Nieu-Seeland; Usman is in Nigerië gebore, maar veg uit die Verenigde State.

Verskeie voormalige vegters en sosialemediagebruikers het beweer Du Plessis wys “wit swakheid” en kon weens sy velkleur nie ‘n Afrikaan wees nie.

“Dis wit swakheid in hierdie een. Super onnodig,” het die voormalige UFC-vegter Mike Jackon op Twitter geskryf.

Ander sosialemediagebruikers het hulle egter by Du Plessis geskaar.

“Ek verstaan ​​nie wat mense nie verstaan ​​nie! Jy hoef nie swart te wees om ‘n Afrikaan te wees nie. Hy en Cameron is regte Afrikane. Hulle is daar grootgemaak, woon daar en oefen selfs daar. Hulle het meer Afrika in hulle as Usman en Izzy saam,” het ’n Twitter-gebruiker gesê.

Albei Suid-Afrikaners het Sondagoggend gewen, met Saaiman wat ‘n beslissingsoorwinning oor Mana Martinez behaal het.

Du Plessis het stadigaan die middelgewigleer geklim en is ná sy triomf nou deel van die topvyf.

Op die foto hierbo: Dricus du Plessis

Fotobron: Twitter