Om breier te ‘boot’ is geen waarborg vir wenspan

LAATVAT MET LUCKY: Wanneer Sewes misluk, misluk rugby. Sewesrugby is in die moeilikheid en benodig dringend hulp – van die boonste rang af. Olimpiese goud is op die spel, waarsku Lucky Maree.

Verrassing, verrassing! In Los Angeles het die Blitsbok Ekspres ontspoor en in ‘n brug vasgejaag. In Vancouver het die trein van die brug getuimel die afgrond in – en sommer die brug saamgesleep.

Frustrasie in die Blitsbok-kamp het die vlak bereik waar spelers met ander spelers begin baklei. Toe die Kanadese die Suid-Afrikaners uitlok, het die Suid-Afrikaners kolskoot in die strik getrap. Terwyl die Canucks daaraan herinner moet word dat nie alle sport ‘n yshokkiewedstryd is nie, was dit onnodig vir ons span om te reageer. Selfs kaptein Siviwe Soyiswape het betrokke geraak by hempde rondruk en vingerswaai. En dit was in ‘n  wedstryd om vir die 13de plek uit te speel.

Ná verlede naweek se toernooi het Suid-Afrika tot sewende op die Wêreld-sewesranglys gedaal.

Oor vier weke verskuif die toernooi na Hongkong, die geestelike tuiste van Sewes, maar niks dui daarop dat die Blitsbokke se afglybaan gestuit gaan word nie.

Wie weet waar hulle sal wees wanneer die Olimpiese Somerspele plaasvind in Frankryk teen Julie 2024?

‘n Dure les is te leer by die meisie wat vir haar ma sê: “Mammie, ek het ‘n glips gehad. Ek verwag ‘n baba.” Die ma antwoord: “Jy het onbeskermde seks gehad met ‘n vreemdeling wat jy by ‘n kroeg ontmoet het. Wat het jy verwag – ‘n grootskerm-TV?”

Om afrigter Sandile Ncgobo vir die span se mislukking te blameer, is gelykstaande aan die kruisiging van Wayne Pivac oor die toestand van Wallis Rugby. Hoe sou Pivac se afdanking en Warren Gatland se aanstelling die groter prentjie kon verander? Geen wonder nie dat Gatland, wat al hoe meer lyk soos ‘n haas verstar in die kopligte, (in die openbaar) gesê het: “As ek geweet het wat kook, sou ek nooit die pos aanvaar het nie.”

Daar is net ‘n paar Rassie Erasmusse op ons planeet. Sewes het nie hul eie Rassie wat die Blitsbokke uit die dryfsand kan trek wanneer hulle wegsink nie. Hoekom sit die Suid-Afrikaanse Rugbyraad nie handjie by nie?

Die feit dat Sewes soos die stiefkind van Suid-Afrikaanse rugby behandel word, bly ’n raaisel. Hoekom word Sewes nie by skole bevorder as die nommer-een rugbyspel voordat die kinders tot 15s vorder nie? Sewes is makliker om te speel, al die spelers is heeltyd betrokke, en dit is soveel makliker om te leer en af ​​te rig. Maar dis ‘n vraag vir ‘n ander dag.

As Sewes misluk, misluk rugby. Sewes is nie ‘n klein kantlynspeletjie wat iewers deur ‘n paar vinnige en ratse ouens vir die pret gespeel word nie. Dit is ‘n kerntak van die sport. Iemand, iewers, moet dit erken en daarvolgens optree. Gatland kan Wallis nie regdokter nie. Ngcobo kan nie die Blitsbokke red nie.

Dis onrealisties om te sê dat Rassie, die man wat wonderwerke met die Springbokke verrig het, dieselfde vir Sewes moet doen. Hy het ‘n Wêreldbeker om te wen.

Maar iemand moet beheer neem en ‘n yslike, positiewe ingryping maak – en dit moet onmiddellik gebeur. Olimpiese goud is op die spel.

Op die foto hierbo: Die ongelukkige Sewes-afrigtingspan in Vancouver

Fotobron: @blitzboks