Na hy sy kinders vergiftig het hang pa homself in hospitaal

Deur Everson Luhanga

Laas Vrydagoggend was Naledi Mfolo nog die trotse ma van drie kinders. Maar in ‘n enkele naweek het die pa van haar kinders hulle almal vergiftig, en toe hand aan eie lewe probeer slaan.

Nadat hy Vrydag sy eie kinders vergiftig het, het Evans Hlangwane ook die kos geëet wat met rotgif besmet was in ‘n poging tot selfdood.

Maar hy het oorleef, saam met een van die kinders.

Die polisie het hom Vrydag in hegtenis geneem en hy was die naweek onder polisiebewaking by Edenvale Hospitaal.

Maar teen Maandag het Naledi ‘n oproep ontvang om te sê Evans het selfmoord gepleeg in die hospitaal deur homself met hospitaallinne op te hang.

Evans was veronderstel om tereg te staan op aanklagte van moord en poging tot moord nadat twee van sy kinders aan die gif gesterf het. Die derde kind, Boitumelo, was ernstig siek, maar is intussen uit die hospitaal ontslaan.

Naledi het met Scrolla.Africa gepraat en gesê Evans se dood het nie geregtigheid gebring vir haar en die kinders nie.

“Ek het nog soveel vrae. Hoekom het hy my kinders vermoor? Wat het hulle gedoen om dit te verdien?

“My kinders het geskreeu terwyl hul gesterf het en hy het gekyk hoe hulle hul laaste asem uitblaas. Hoekom moes hy my kinders doodmaak?” het sy herhaaldelik gevra.

Sy sê sy het gehoop haar oorlede kêrel sou gearresteer, aangekla en vir ewig tronk toe gestuur word vir sy dade. “Dit is jammer dat hy gesterf het sonder om gestraf te word,” het sy gesê.

Naledi vertel die polisiespeurder wat haar oor Evans se dood ingelig het, het aan haar gesê dat hy homself opgehang het hoewel hy onder polisiebewaking was.

“Hy het glo vir die polisie gevra om die ligte in die saal af te skakel, en sy bene was steeds vasgeketting.”

Hy het toe sy lakens gebruik om homself op te hang.

Sy het gesê toe die verpleegsusters by hom kom inkyk, het hulle hom dood aangetref en die polisie ontbied wat hom moes bewaak.

Naledi se oorlewende dogter, Boitumelo, is Maandag uit die hospitaal ontslaan – en moes die hartseer nuus van haar sibbes se sterfte verneem.

Op die foto hierbo: Evans Hlangwane

Fotobron: Verskaf