Man vas maand na massamoord

Deur Anita Dangazele

Die polisie in die Oos-Kaap het ’n 33-jarige man in hegtenis geneem, ’n maand nadat agt mense by ’n verjaardagpartytjie in Kwazakhele doodgeskiet is.

Vyf ander verdagtes het weggekom toe die polisie ’n klopjag op ’n woonstelblok in Walmer, Gqeberha, uitgevoer het.

Die provinsiale polisie-segspersoon, Brigadier Tembinkosi Kinana, het bevestig dat taakmaglede op

’n wenk oor die vermeende moordenaars se doen en late gereageer het.

“Toe die taakmag by die gebou aankom, het hulle net een verdagte daar aangetref. ’n

Ondersoek het bevestig dat hy by die skietery betrokke was.

“Hy is op die daad in hegtenis geneem en word in die selle by Mount Road-polisiestasie aangehou terwyl die ondersoek voortduur.”

Die ander verdagtes is nog op vrye voet.

Op 29 Januarie is agt mense doodgeskiet en drie ander ernstig beseer by ’n 50ste verjaardagviering. Vusumzi Sishuba, wie se verjaarsdag dit was, is saam met sy ouer broer, Andile, doodgeskiet.

Die provinsiale kommissaris, Luitenant Generaal Nomthetheleli Mene, het die taakmag bedank vir hulle goeie werk, wat tot dié deurbraak gelei het. 

“Ek is dankbaar vir die arrestasie. Dit het ons vasbeslotenheid om die moordenaars op te spoor versterk. 

“Hoe vinniger die ander verdagtes vasgekeer word, hoe vinniger kan die slagoffers se gesinne afsluiting in hierdie aaklige beproewing vind.”

’n Motief vir die moorde is nog nie vasgestel nie. Die gevangene, wie die identiteit nog nie bekend gemaak kan word nie, sal vandag in New Brighton se landdroshof van moord aangekla word. Die polisie sal borgtog teenstaan.

Enigeen wat met inligting oor die vyf ander verdagtes word versoek om Speurkaptein Sitole by 082 457 2812, of CrimeStop by 086 00 10111 te skakel.

In die foto hierbo: Die huis is Kwazakhele waar die massa-skietery op 29 Januarie plaasgevind het.

Fotobron: Anita Dangazele